Kyk: Pikkies sterk goed aan ná Kaapse storms

‘n SANCCOB vrywilliger voer ‘n Afrika-pikkewyn wat tydens die vloede gered is (Foto: Eunice Masson)

Deur Eunice Masson

Meer as 230 bedreigde Afrika-pikkewynkuikens wat tydens erge storms in die Wes-Kaap gered is, sterk goed aan.

Die pikkewyne is sedert die begin van die jaar deur die Suider-Afrikaanse Stigting vir die Bewaring van Kusvoëls (Sanccob) gered. Van die 231 pikkewynkuikens is 162 ná rehabilitasie weer in die natuur vrygelaat.

Die nat wintermaande langs die suidwestelike kus van die land het onder meer veroorsaak dat pikkewynneste verspoel en volwasse pikkewyne hulle kuikens verlaat het. Gevolglik word kuikens wat nog nie kan swem nie, weerloos gelaat.

Kaapstad het op 24 en 25 September ʼn gemiddelde reënval van 714 mm aangeteken. Net twee weke gelede is sowat 20 pikkewynkuikens weens oorstromings gered. Die pikkewynkuikens is afkomstig van die Stony Point‑kolonie in Bettysbaai.

In die lig van internasionale Afrika-pikkewyne‑bewusmakingsdag op 14 Oktober, het Maroela Media die afgelope week Sanccob se rehabilitasiesentrum in Kaapstad besoek.

SANCCOB in Kaapstad, pikkewyne wag om gevoer te word. (Foto: Eunice Masson)

Ronnis Daniels, woordvoerder vir Sanccob, verduidelik dat elke kuiken wat gered word, fyn gemonitor word. Terwyl die meerderheid kuikens groot genoeg is om binne pare in spesiale bokse gehou te word, is daar een pikkewyntjie wat nog afsonderlik aansterk.

Dié geveerde vriendjie word ses keer per dag tussen sesuur die oggend en negeuur saans gevoer. Die ouer kuikens ontvang daagliks twee maaltye wat bestaan uit twee sardyne asook ʼn visformule wat met ʼn inspuiting aan elk gegee word.

Volgens Daniels sal die groep pikkewynkuikens vir die volgende agt tot tien weke in Sanccob se sorg bly voordat hulle weer vrygelaat word.

Sanccob neem op ʼn daaglikse basis beseerde pikkewyne of kusvoëls in, vertel die stigting se seevoël-rehabiliteerder, Jade Sookhoo. Afhangend van die graad van besering, kan so ʼn voël se onderhoud tot R2 000 per dag kos. Dit sluit medikasie, voedsel en vitamiene in.

Sedert die begin van die jaar is 603 seevoëls in Sanccob se sorg geplaas, waarvan 345 tot dusver ná rehabilitasie weer vrygelaat is.

Volgens Sookhoo is wanvoeding en uiterse weerstoestande van die hoofredes waarom Afrika-pikkewyne in hulle sorg beland.

“Daar is nie genoeg vis in die see nie, aangesien pikkewyne met vissersbote en mense meeding,” sê Sookhoo, en voeg by dat die getal pikkewyne wat aan wanvoeding ly, elke jaar meer word.

“’n Paar jaar gelede het ons nie hierdie erge wanvoeding gesien nie… Hierdie pikkewyne is besig om teen ʼn vinnige tempo uit te sterf,” meen Sookhoo.

Boonop word die Afrika-pikkewynspesie as “kritiek bedreig” geklassifiseer.

Eduard Drost, pikkewynkaptein van Dyer-eiland, sê die Afrika-pikkewyne sal luidens voorspellings vanaf 2030 nie meer funksioneel kan broei nie omdat daar te min van die bedreigde volwasse voëls sal wees om as ouers hul broeifunksie te kan uitvoer, het Maroela Media in Maart berig.

Dié voëlspesie, wat endemies aan Suid-Afrika en Namibië is, het oor die laaste eeu van een miljoen broeipare tot ongeveer 10 000 pare afgeneem.

In ʼn poging om noodsaaklike voedingsbronne vir pikkewyne te bewaar, het die minister van visserye, bosbou en omgewingsake, Barbara Creecy, in Augustus visvangbeperkings aangekondig.

Die visvangbeperkings sal vir ʼn minimum van tien jaar by ses pikkewynkolonies geïmplementeer word en sal ná ses jaar hersien word. Die beperkings sal na verwagting aan die begin van die 2024‑visvangseisoen in werking tree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.