Kyk: Skote klap weer in Piet Retief

Die polisie was genoop om skokgrenate af te vuur (Foto: Skermgreep)

Daar was Dinsdagmiddag weer chaos buite die landdroshof in Piet Retief toe ʼn groep betogers polisielede met klippe bestook het.

Annelia van der Merwe, ʼn fotograaf en videograaf van Piet Retief, was op die toneel toe die skare vroeër die middag weer oproerig geraak het. Sy sê hulle het polisielede met klippe bestook waarna die polisie moes ingryp en skokgranate afvuur.

Sy sê daar was ook gerugte van ʼn man wat met sy motor deur die betogings gery het en toe ook met klippe bestook is. Hy was klaarblyklik op pad deur die dorp van Middelburg af.

Teen Dinsdag 15:00 was die situasie weer rustig en het die skare net voor die hof gedans en gesing.

Die polisie staan sedert Maandag gereed om betogers onder bedwang te bring (Foto: Skermgreep)

Die groep betogers maak al sedert vroeg gisteroggend amok in die dorp toe die hofsaak van Daniel Cornelis Malan (38), Cornelius Lourens Greyling (25), Othard Johann Klingenberg (53) en Ignatius Michael Steynberg (31) in die plaaslike landdroshof begin het. Dié vyf boere word daarvan beskuldig dat hulle twee broers, Mgcini Amos Coka en Zenzele Coka, op 9 April op die plaas Pampoenkraal in die Dirkiesdorp-omgewing doodgeskiet het.

Die groep betogers eis geregtigheid vir die Coka-broers se dood.

Die verhoor waartydens die mans se borgtogaansoeke aangehoor is, is Dinsdagoggend voortgesit.

Maroela Media het vroeër berig die polisie in Mpumalanga het gewaarsku teen verdere oproerige gedrag soos dié wat Maandag buite die landdroshof op Piet Retief gesien is. Betogers het toe die doringdraad wat voor die hof gespan is, probeer verwyder. Die draad is gespan om te keer dat betogers die hofperseel binnegaan en om te verseker die verrigtinge sonder ontwrigting kan voortgaan.

‘n Lugfoto van die groep betogers wat sing en dans (Foto: Annelia van der Merwe, Verskaf)

Kol. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder in Mpumalanga, het gister gesê die polisie het betogers verhinder om die draad te verwyder, maar hulle het op ʼn plundertog gegaan en die vensters van minstens drie private voertuie asook die vensters van ʼn sakeonderneming uitgeslaan.

Mdhluli het gesê die plunderaars het glo hul strooptog in  ʼn drankwinkel voortgesit. Twee polisievoertuie is ook beskadig en ʼn man is glo deur dieselfde groep mense gesteek.

Mdhluli kon nog geen kommentaar op die gebeure van Dinsdagmiddag lewer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Tokkel ·

En so sien ons geen arrestasies van betogers nie!! Die bewyse is daar en kan gesien word wie dit doen, maar ek wonder waar is die bewyse wie die broers geskiet het. Kan net dink wie agter hierdie krimenele gedrag en opstokery staan…

Tiptol ·

As hulle maar net kon opbou soos hulle afbreek. Dís nou die toekoms van ons land.

LANA is ELANè ·

En behoede jou as jy waag om jouself of jou eiendom te beskerm teen die boosaards, dan sit jy presies waar hierdie boere sit, agter tralies. Jy moet mos maar terugstaan en bid vir die beste. Siek wêreld waarin ons leef, misdadigers het beslis meer regte as mense wat eerbaar probeer om ‘n lewe te maak.

Blikke ·

En waar is die Perd met die hoed dan nou? Nie dat hy in elkgeval n hond haaraf sal kan maak nie. Wonder maar net…..

Strandloper ·

Kry skok berading…het per ongeluk in die speël gekyk….

TO ·

Maar my magtig, die polisie kan mos sien wie se wapen afgevuur is, nee sal eerder net beskuldig

Brandwag ·

Ek kyk nou na die oom wat in die Nyale sit…as dit nou my Pa of familie was, was ek nou oppad soontoe en sou gaan pakslae uitdeel…dalk moet ek dit doen.

Boer ·

Ou Beckie het jy nou al die wat geplunder en afbrand van eiendome daar ook al toe gesluit. Met die Senekal geval het julle sommer gou gou die man toe gesluit. Dan is eers sy borgtog geweier toe kry hy R15000 borgtog. Gaan dieselfde met jou mense gebeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.