Kyk: ‘Tronk toe’ hoor mans ná Benoni-nagklubmoord

Gideon Fourie, Jacques de Lange en Sampie Hearn Dinsdag tydens vonnisoplegging. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

“Regte mans doen nie wat hulle gedoen het nie.”

Streekslanddros Ian Cox het Dinsdag harde woorde gehad voordat hy Gideon Fourie (27) vir 15 jaar tronk toe gestuur het vir die moord op Daniël Botha.

Botha, ʼn Oos-Randse man en sy ouers se enigste seun, is in Julie 2018 in die vroeë oggendure só erg by die kuierplek Dingo’s Pub in Benoni aangerand, dat hy later breindood verklaar is.

Jacques de Lange en Sampie Hearn is elk vyf jaar tronkstraf opgelê en ‘n verdere twee jaar wat vir vyf jaar opgeskort is.

De Lange en Hearn sal wel in aanmerking kom vir korrektiewe toesig nadat hulle tien maande van hul vonnis uitgedien het, het Cox vanmiddag beslis voordat die drie mans na die Benoni-streekshof se selle begelei is.

De Lange was sigbaar ontsteld.

Die sogenaamde nagklubmoordsaak was byna vyf jaar lank op die hofrol voordat Fourie in Februarie skuldig bevind is op aanklag van moord. Fourie was die een wat Botha op die noodlottige aand met onder meer sy elmboog bygedam het.

Botha se ouers is ook oortuig daarvan dat Fourie hul seun op dié aand gewurg het. Fourie ontken dit steeds.

De Lange en Hearn is op hul beurt skuldig bevind aan aanranding met die doel om ernstig te beseer nadat hulle ʼn bewustelose Botha die betrokke aand herhaaldelik op die dansvloer geskop het.

“Die drie beskuldigdes is dalk almal eerste oortreders wat polisierekords betref, maar die bewyse toon dat hulle ʼn geskiedenis van geweld het,” het Cox tydens vonnisoplegging gesê.

Daar is tydens die verhoor aangevoer dat die drie gereeld in bakleierye by Dingo’s betrokke geraak het.

Daniël Botha. (Foto: Verskaf)

ʼn Bakleiery in die vroeë oggendure van 26 Julie 2018 het eindelik Botha se lewe gekos nadat Fourie vir Charlene Maré, Botha se vriendin wat die betrokke aand saam met hom na die kuierplek is, beledig het.

Botha het nader gestap en voorgestel dat hy en Maré huis toe gaan voordat Fourie hom sonder waarskuwing geslaan en gewurg het.

“Watter soort man, ʼn regte man, behandel ʼn vrou soos wat Gideon vir Charlene daardie aand behandel het?” het Cox gesê.

“Watter soort man slaan ʼn ander man vir geen ander rede as omdat hy kan nie?

“Watter soort man skop ʼn hulpelose man … want hy kan?

“Is dit regte mans?

“Is dit iets om op trots te wees?

“Nee, ek dink nie so nie,” het Cox eindelik geantwoord.

Cox het verder gesê die drie beskuldigdes was ten tyde van die voorval arrogant. “Hulle het gedink hulle is onaantasbaar.”

Cox het ook bevind dat Fourie, De Lange en Hearn geen berou vir hul optrede getoon het nie en deurgaans oneerlik was.

“Ons het steeds nie die waarheid gehoor nie.”

Cox het tydens sy uitspraak gesê dit gebeur al meer dat jong mans vuiste swaai by ontspanningsplekke en eindelik ʼn lewe neem.

“Dit moet end kry. Daar moet ook ʼn duidelike boodskap gestuur word dat dit nié geduld sal word nie. Dit hoort nie in ʼn beskaafde samelewing nie,” het Cox ferm gesê.

Al drie oortreders se regsverteenwoordigers het reeds aangedui dat hulle teen die uitspraak gaan appelleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Pieter ·

15 jaar vir moord en binne 8 jaar kan hy uitkom. Daniël se ouers is vir die res van hulle lewens sonder hulle kind.

E ·

Die vonnisse is skandelik lig. Hulle het as “n span Botha aangerand en moes almal dieselfde vonnis gekry het, hoewel ek reken hulle moes almal 25 jaar gekry het ten minste. Ek hoop Botha se ouers appelleer teen die belaglike straf.

Nico ·

Het Daniel objeksies gejad teen hierdie 3 se aanmerkings tenor sy metgesel

ES ·

Waarskynlik, maar dit regverdig nie dat sy lewe van hom geneem moes word nie.

Magda G ·

Laat dit n les wees. Ek ken ook sulke mans en vrouens – sodra in n groep dan begin hulle skoorsoek tot n bakleiery uitbreek. Daarna hardloop hulle weg

E ·

Ek sien dit al jonk by sommige – een kind is skaars 10, maar as hy agteraf ‘n kind kan pootjie doen hy dit. Ek dink hy is so stout om aandag te soek. Hy dink hy kan want sy ouers het geld. Dit maak sommige kinders arrogant.

Suzette ·

Dis hoog tyd dat die arrogante mannetjies wat dink hulle is onaantasbaar lesse geleer word. Nou het jy baie tyd om rustig oor jou toekoms in die samelewing te gaan besin. Onthou altyd die volgende. Selfs die kleinste ou babatjie kan n blommetjie, wat n ALMAGTIGE GOD gekos om te maak vermorsel.

Republikein in die Wes Kaap ·

Dagvaar hom ook vir alles wat hy het. Al is daar seker nie veel nie.

ES ·

Ongelukkig werk dit nie so nie. Die hof se doel is nie finansiele verryking nie. Die familie sal dalk kan dagvaar vir mediese onkostes van Botha, as dit uit hul sak gekom het, maar anders kan jy nie net sommer dagvaar en vir geld vra nie. Dit werk dalk so in Amerika maar nie in ons regstelsel nie.

E ·

Ek is seker ek het al iets in SA wet gesien wat jy “wrongful death” noem – dis ‘n siviele eis.

Pietertjie ·

Hulle moet maar lekker dink aan die skade wat hulle aan ander berokken het, terwyl hulle baaisiekel ry in die tronk. Ek het geen simpatie met gen-Z bullebakke nie.

Nici ·

As ek skuldig was sou ek nie appel aanteken nie. Die regter het meer genade getoon as wat hul verdien. Op appel kry hul dalk langer tronkstraf.

ES ·

Ek stem Nici. Oscar het geappelleer teen sy manslag vonnis en toe verander die appelhof sy beslissing na ‘n moord vonnis.

Corne123 ·

ja teken apel aan want ek dink julle “boelies” so klink dit uit berig het lig daarvan afgekom.verdien swaarder straf

ES ·

Julle kan maar appel aanteken manne – onthou net, jy kan nie nuwe bewyse in ‘n appelsaak ten vore bring nie en al wat die appelhof gaan doen is om seker te maak dat die hof van eerste instansie nie ‘n fout gemaak het met jul vonnisse deur na presies dieselfde bewyse te kyk.

Oscar het geappelleer teen sy manslag vonnis en toe bevind die hof dat Masipa J ‘n fout begaan het in haar vonnisoplegging, en toe word hy aan moord skuldig bevind.

Nico ·

Dit kon soveel anders gewees het as daar nie drank betrokke was nie. Die 12 jaar tronk straf gaan die die ouers se hartseer verlig nie, en drie mans wat een man vermoor het is onaanvaarbaar.

Stofdonkie ·

Baie vuisgevegte breek uit by skole en daar is nie drank nie. Dis nie die drank wat die probleem is nie maar die algemene dissipline en respek. Bederfde seuntjies wat dink hulle kan maak en breek soos hulle wil wat die oortredings begaan

Daleen ·

Drank is ‘n euwel en verwoes elke dag – op verskillende maniere – lewens hierdie is weer sprekende voorbeeld daarvan.

Pretorianooi75 ·

So was dit toe die moeite werd om arrogant te wees? Windgatgeit is nie cool nie. Julle vonnis is te lig vir die lewe wat julle geneem het.

QueenB ·

Gee dai landdros n bells..dankie mnr hier is te veel van die kapok haantjies wat dink hul is ontasbaar mag dit vir res n les wees het respek vir jou medemens

Casper ·

Dit lyk vir my die beskuldigdes soek openlik vir ‘n bakleiery,en hulle geniet dit.Manne julle het gekry wat julle gevra het,tronkstraf.Om iemand te skop terwyl hy lê is darem braaf van julle en dit is vir my moord.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.