Foto’s: Veiligheidsbrakke nou by monument opgelei

Veiligheidshonde word opgelei by die Voortrekkermonument in Pretoria. (Foto: Verskaf)

Die Voortrekkermonument se terrein is nou die nuwe tuiste vir die opleiding van veiligheidshonde.

Dít nadat die Voortrekkermonument en Kwamandla Protection Services ’n samewerkingsooreenkoms aangegaan het om volhoubare veiligheid op die terrein te verseker.

Waghonde in wording het die monument se terrein intussen besoek as deel van hul opleiding vir die belangrike veiligheidswerk wat hulle eendag sal moet aanpak – om boewe uit te snuffel.

“Nie net is die monument een van ons mees geliefde geskiedkundige bestemmings nie, maar ook ’ְn daadwerklike veilige hawe vir familiepret danksy die volgehoue werk van die monument se veiligheidspan en Kwamandla Protection Services se honde-eenheid,” lui ’n verklaring wat die Monument Vrydag uitgestuur het.

As deel van hul opleiding word die jong hondjies aan verskeie terreine blootgestel, sodat hulle op enige terrein hul werk sal kan verrig.

Dié honde word opgelei as ’n snuffelhond of ’n uitblafhond. Snuffelhonde snuffel onwettige middels uit, terwyl die uitblafhonde opgelei word vir patrollies en om booswigte op te spoor.

Die veiligheidshoof by die Voortrekkermonument, Pierre Horak, sê hy is dankbaar vir die rol wat die honde-eenheid in die veiligheid van die monument speel.

“Die honde word opgelei om enige verdagte gebiede, elemente of mense aan hul hanteerder uit te wys en dit dra by tot die veiligheid van die terrein.

“Veiligheid is die monument se topprioriteit, nie net om ons personeel op te pas nie, maar om toeriste en besoekers ’n ongelooflike toerisme-ervaring binne ’n veilige omgewing te gee,” sê Horak.

Hierdie opleiding sal op ’n maandelikse grondslag deur Kwamandla Protection Services op die terrein gedoen word en die maatskappy sal die monument ook bystaan om veiligheidsoperasies op die perseel uit te voer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Chris dupreez ·

Ek weet nie of die veiligheid by die Monument so goed gaan wees met hanteerders wat omgekoop kan word nie.

Christelle ·

Julle opskrif is onvanpas en onsmaaklik – Hierdie diere doen belangrike werk en kan jou lewe red, dus is hulle nie brakke nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.