KZN-polisie lê beslag op meer as 700 vuurwapens, duisende rondes ammunisie

Argieffoto (StevePB, Pixabay)

Die polisie in KwaZulu-Natal het in September op altesaam 739 onwettige vuurwapens en 5 132 rondes ammunisie beslag gelê.

Kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, sê die wapens wat gekonfiskeer is, sluit in 603 pistole, 15 tuisgemaakte vuurwapens, vyf semi-outomatiese vuurwapens, 80 gewere en 36 haelgewere.

“Onwettige vuurwapens in die hande van misdadigers het ’n negatiewe uitwerking op ons gemeenskappe. Onskuldige lewens word verloor terwyl ernstige en gewelddadige misdade met hierdie onwettige vuurwapens gepleeg word,” het Gwala gesê.

Verskeie toebehore, soos lope en knaldempers, om vuurwapens aan te pas is ook herwin.

Dit is nie duidelik waar al die wapens gevind is nie.

Thulani Gonya, waarnemende polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, het gesê die herwinning van die wapens is ’n getuienis van die verbintenis van die polisie om die besit van onwettige vuurwapens dwarsoor die provinsie hok te slaan.

Hy het ’n beroep op die publiek gedoen om onwettige vuurwapens wat in hul besit is in te gee, veral omdat die land in die midde van ’n vuurwapenamnestie is. Hy sê vuurwapenamnestie bied burgers beskerming teen vervolging weens die onwettige besit van wapens en ammunisie.

“Die doel van die amnestie was om die sirkulasie van onwettige vuurwapens hok te slaan,” sê Gonya.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Cornelius ·

Ontwapen die wetsgehoorsame bevolking en gee die ingehandigde wapens vir die kriminele.

Kokerboom ·

Welgedaan. Maak net seker gekonfiskeerde wapens vind nie weer hul weg teen betaling na onderwereld dmv korrupte polisielede

Baardman ·

Dis reg, jag die onwettige wapens en hou op maklike teikens te ontwapen

Lorna ·

Mos natuurlik n inside job
Wonder hoeveel onwettige eff vlg week gaan saambring hof toe
Wees paraat my mense

Persheks Adri ·

En juis om hierdie rede gee ons nie wapens in nie en maak seker ons lisensies is op datum. Jy gee NIKS vir die staat nie!

LiveAndLetLive ·

Wie sit agter die vuurwapens, hoop dit word nou vernietig want dit gaan maar net weer na dieselfde hande toe gaan indien nie

Adeline ·

vanaf 1994 en nou eers doen hulle hul werk – en word wonderlik geprys daarvoor terwyl die kern van die polisie voos vrot en korrup is – Tragies dat soveel mense onnodig moes sterf en daar nou eers daadwerklik iets gedoen word – iemand in die voos vrot korrupte land het die boodskap gekry – verseker.

Flip ·

Hoeveel van die wapens is van die polisie en weermag afkomstig? Hulle “verloor” mos gereeld en “per ongeluk” die goed…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.