Laat staan rentekoers vir nou

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

ʼn Besluit om die rentekoers onveranderd te hou – of dit selfs te verlaag – kan voordelig wees vir die Suid-Afrikaanse ekonomie en dit bes moontlik ʼn hupstoot gee.

Dít volgens Thys van Zyl, uitvoerende hoof van Everest Wealth, wat van mening is dat die rentekoers nou eers laat staan moet word. Everest Wealth is ʼn private beleggings-en-welvaartbestuursmaatskappy.

Ná tien agtereenvolgende rentekoersverhogings en die monetêre beleidskomitee se besluit in Julie om die rentekoers onveranderd te laat, het inflasie nou teruggesak tot in die Reserwebank se teikenband van tussen 3% en 6%.

Hoewel inflasie die laagste in twee jaar is, is Suid-Afrikaners steeds in die knyp weens die stygende rentekoers, beurtkrag, asook duurder krag, kos en brandstof.

“[Hierdie faktore] plaas groot druk op ondernemings en individue,” sê Van Zyl.

“ʼn Tweede pouse of selfs verlagings in die rentekoers in September en November sal vir verbruikers ʼn broodnodige blaaskans gee – veral vir dié met skuld.”

Van Zyl sê hoë rentekoerse veroorsaak dat huishoudelike besteding “doodgewurg” word, maar ʼn blaaskans kan verbruikersbesteding aanhelp en huishoudings se vermoë om hul skuld te pak voor die Desember-feestyd verbeter.

“Verbruikers het die afgelope anderhalf jaar swaar getrek en sukkel steeds om kop bo water te hou. ʼn Verlaging in die rentekoers kan ʼn sug van verligting beteken en ekonomiese groei aanwakker.

“Enige verdere rentekoersverhogings sal bloot wees om die rand se waarde te probeer beskerm en dit is nié die oplossing nie aangesien politieke en ekonomiese onstabiliteit die skuld dra en vuisvoos verbruikers eindelik daarvoor boet.”

Van Zyl sê die land stuur op ʼn ramp af as daar steeds lenings aangegaan kan word, maar daar nie eers aan ander broodnodige kwessies soos die vervalle vervoernetwerk en Eskom aandag gegee kan word ten einde ekonomiese groei te bewerkstellig nie.

“Daar is hoop vir die ekonomie, maar die regering gaan dan dringend moet ingryp en hierop fokus.”

Hy sê beurtkrag lê die ekonomie steeds lam, terwyl die vervallende vervoernetwerk die land se ekonomie miljarde rande kos in verlore uitvoere én ekonomiese groei knou.

“Die regering moet hervormings instel om die land se logistieke beperkings en kragkrisis uit die weg te ruim sodat die ekonomie kan groei.”

Sou die regering die private sektor toelaat om in te gryp waar staatsondernemings gefaal het, sê Van Zyl, sal die ekonomie veel beter groei en sal dit nie nodig wees om sulke uiterste stappe te doen om die rand te beskerm nie.

“Die regering moet homself as die grootste hindernis verwyder en die omgewing skep vir die private sektor om te belê en kapitaal in te stoot.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

Om die VSA slaafs na te volg is ‘n big mistake. Die VSA is dalk op die verkeerde pad. Hulle is nie altyd reg nie.

Duck ·

Ek kla nou nie juis oor die rente koerse nie want ek word bevoordeel deur die bietjie rente wat ek verdien, maar nou ja, die manne met skuld trek swaar so dit is maar ‘n “give and take”
Ons almal het maar èrens in ons lewe swaar getrek. Byt vas!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.