Laerskoolleerder skiet skoolhoof in Germiston

(Foto: Max Kleinen/Unspplash)

ʼn 13-jarige leerder van Primrose Primary School in Germiston is Vrydagoggend in hegtenis geneem nadat hy glo die skoolhoof geskiet het.

Die voorval het na bewering plaasgevind toe die skoolhoof leerders in die voorportaal sien sit het en hulle opdrag gegee het om hul werkboeke uit te haal en te studeer. Die gr. 6-leerder het na bewering iets in reaksie gemompel, maar die skoolhoof het hom geïgnoreer. Hy het die leerder later naby die personeelkamer weer gesien, waar die leerder hom met ʼn vuurwapen geskiet het.

Volgens kol. Dimakatso Nevhuhulwi, woordvoerder van die polisie, is die 51-jarige skoolhoof intussen na ʼn plaaslike hospitaal geneem.

“Die omstandighede wat tot die skietery gelei het, is in hierdie stadium steeds onbekend. Die polisie het egter ʼn ondersoek van stapel gestuur om vas te stel waar die leerder die vuurwapen – waarop die polisie beslag gelê het – in die hande gekry het.”

Primrose Primary School (Foto: Facebook)

Matome Chiloane, provinsiale LUR vir onderwys en jeugontwikkeling, sê hy is verpletter oor die voorval.

“Die polisie ondersoek die omstandighede rakende hierdie voorval, maar daar word beweer dat die vuurwapen aan die leerder se ouer behoort.”

Hy sê hy is verstom oor die aard van die voorval en die manier waarop dit plaasgevind het, “en ons ontmoedig sulke wangedrag by ons skole”.

“Ons sal die nodige dissiplinêre stappe teen die leerder doen, terwyl ons ook die skoolhoof se toestand sal monitor om te verseker dat hy ten volle herstel.”

Chiloane sê hul eenheid vir psigo-sosiale ondersteuning sal die skool Maandag besoek om die nodige berading en trauma-ondersteuning te verskaf.

“Beraders van die departement sal ook die skoolhoof en werknemers by die skool bystaan ​​ná hierdie traumatiese voorval.”

Die tiener sal na verwagting binnekort voor die Germiston-landdroshof verskyn op aanklag van poging tot moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Adriana ·

Die duiwels wat gemeenskappe groot maak deesdae, voel niks vir niemand

Casper ·

Hoe het hy die vuurwapen in die hande gekry.Vuurwapens moet in ‘n kluis giegesluit wees en die lisensiehouer is verantwoordelik daarvoor.Hy of sy was nalatig as dit nie ‘n gekoopte vuurwapen is nie.

ES ·

Die ouer wat die vuurwapeneienaar is moet ook sommer toegesluit word want hoe het ‘n 13-jarige kind daardie vuurwapen in die hange gekry??

Roek ·

Ja die arme bloedjies wat altyd so onskuldig is en die onnies wat die spit moet afbyt . dit is nie wangedrag nie dit is poging tot moord !!!

Nicky ·

Dis hoe hulle ge leer word want geen dissipliene mag meer toe gepas word nie, soos 3 van die beste

Jannie van Niekerk ·

En hy gaan niks oorkom nie want leerders mag mos nie gestraf word nie

Leonora ·

Liewe genade 13 jaar oud, en klaar wil ons moord pleeg, lyfstraf moet terugkeer, want kinders ruk hand uit

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.