Laingsburg-vloedramp: Herinneringe herroep met 40ste herdenking

Op 25 Januarie 1981 het ‘n blitsvloed die dorp van Laingsburg verwoes. Die treinbrug se pilare het verbrokkel weens die sterk watermassa. (Foto: Fotograaf onbekend)

Die inwoners van Laingsburg in die Wes-Kaap het op Sondag 25 Januarie 1981 nog nie geweet dat een van die grootste natuurrampe in die land se geskiedenis later die dag hier sou afspeel toe hulle ná die oggend se kerkdiens die strate van die dorp in enkeldiepte water aangetref het nie.

Dit het die vorige twee dae weens ʼn wolkbreuk onophoudelik gereën en die Buffelsrivier, wat deur die dorp loop, het omstreeks 08:00 begin oorstroom. Die Baviaans- en die Wilgerivier, wat ook deur die dorp loop, se vlakke het begin opstoot en by die watermassa van die Buffelsrivier aangesluit.

Wat enkele ure later op dié stil, dorre dorpie in die Moordenaarskaroo gebeur het, is byna ondenkbaar: ʼn Blitsvloed het bykans die hele dorp in puin gelê, met honderde inwoners wat verslae, verpletter en dakloos gelaat is.

Die opgeboude massa water het alles op die dorp wat reeds oorstroom was voor die voet weggevee toe die pilare van die treinbrug, waar die drie riviere bymekaar gekom het, verbrokkel het.

Op 25 Januarie 1981 het ‘n blitsvloed die dorp van Laingsburg verwoes. Talle inwoners het op dakke van huise en in bome geskuil. (Foto: Fotograaf onbekend)

Talle inwoners het op dakke van geboue en in bome skuiling gevind. Altesaam 10 mense het tot in die Floriskraaldam, sowat 21 km verder, gespoel en is ure later daar uit die water gered. Die krag van die water was so sterk dat sommige van die lyke tot in Mosselbaai, sowat 250 km verder, gevind is.

Uit die 104 mense wat daardie dag in die watermassa vermis geraak het, is net 32 se lyke gevind en begrawe, terwyl 74 nooit gevind is nie. Altesaam 184 huise is vernietig en slegs 21 huise en die NG-kerk op die dorp het staande gebly.

Volgens inligting deur die Vloed-museum, wat ná die tragedie opgerig is om die stormagtige verhaal van dié dag te vertel, was die vloedhoogte ongeveer 16,5 m hoog. Die dorp is uiteindelik herbou en hoewel die Buffelsrivier steeds reg deur Laingsburg loop, het dié rivier selde enige water in.

Die Burger het destyds R3 miljoen ingesamel om aan die slagoffers van die ramp te skenk en die regering het R7 miljoen aangewend om 118 huise, ʼn ontspanningsentrum, sportskompleks en koshuis te bou.

ʼn Oorlewende vertel

Marietha Brinckner neé Koorts (middel) en Willie Koorts agter. (Foto: Skermgreep uit video)

Willie Koorts, ʼn elektroniese tegnikus, het ter viering van die 40ste herdenking van die vloedramp ʼn omvattende video saamgestel waarin sy niggie, wat destyds die Laingsburg-vloedramp beleef het, ʼn emosionele vertelling van die gebeure weergee.

“Die Laingsburg-vloedramp raak my en my vrou direk omdat ons albei se families betrokke was. Die destydse posmeester, sy vrou, hul dogter en haar baba was familie van my vrou. Hulle is al vier deur die vloedwater meegesleur,” vertel Koorts in die video.

Koorts se tannie en drie niggies het ook op Laingsburg gebly, maar was ongedeerd alhoewel hulle huis heeltemal onder water was. Een van die niggies, Marietha Brinckner (née Koorts), vertel in die video van daardie Sondag se skrikwekkende treurspel en hoe die land laer getrek het om die skerwe van die oorlewende Laingsburgers se lewens weer aanmekaar te sit.

“Ek kan nie dink 40 jaar is verby nie, sjoe, met die hartseer en die pyn van daai dag én daarna. As ek terugdink aan hoe ons net gedink het die water sal nié naby of deur ons huis kom nie en uiteindelik het jy gesien dit kom al hoe nader en besef nou sal jy ʼn plan móét maak,” onthou Brinckner.

Die Vloed-museum op Laingsburg. (Foto: Facebook/Laingsburg Flood Museum)

“Dit wat jy daar beleef het bly jou by. Ek sal graf toe gaan met daardie gesigte wat jy gesien het; hoe stowe en klerekaste in die Buffelsrivier afgekom het en hoe huise eers in die rondte gedraai en dan soos ʼn stofwolk in hierdie malende, bruisende kolk van water verdwyn het.”

Brinckner raak emosioneel wanneer sy onthou hoe die Wimpy-eienaar op die dorp dié aand vir hulle slaapplek aangebied het.

“Dit was wonderlik om jou kop êrens te kon neerlê, maar jy het niks. Jy het nie ʼn tandeborsel nie, jy het nie ʼn waslap nie, jy het niks. Die wêreld en Republiek van Suid-Afrika het hulle harte vir ons oopgemaak. Die weermag het daardie selfde aand nog gekom en begin om op te ruim en ʼn paar dae daarna het die trokke gekom met vragte klere.”

Sy vertel sy het die dag voor die vloedramp haar 22ste verjaardag gevier en onthou dit as ʼn “lieflike dag” met reën wat heeldag saggies geval het. “Ons harte het gejuig [oor die reën], min wetend wat die Sondag vir ons voorlê.”

Brinckner onthou die water het die Sondagoggend reeds voor die kerkdiens deur die strate van die dorp begin sypel en ʼn uur later, toe die kerkdiens verdaag, het die watervlakke al aansienlik opgestoot.

Inwoners het na die vloed in die weermagkamp wat op die skool se rugbyveld opgerig was, gebly en het maaltye gekry wat bedien is deur die destydse Suid-Afrikaanse weermag.

“Ons is innig dankbaar vir die hulp wat destyds aan ons verleen is om weer op die been te kom. Dit was ʼn tyd wat jy nie vir enigiemand toewens nie.”

Slagoffers 40 jaar later só onthou

ʼn Nuwe klipmonument is op Maandag 25 Januarie vanjaar opgerig by die Vloed-museum ter nagedagtenis aan die 104 mense wat hulle lewens in die vloedramp verloor het. Die naam van elke oorledene is op die klippe aangebring.

Kyk hier na Willie Koorts se video:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Adeline ·

Was so verskrilklik hartseer – in Alberton gebly toe dit gebeur het – het ook van my oorlede pa se familie geweet wat daar gebly het en my pa het destyds spesiaal gery om te gaan kyk en help vanuit Robertson Wes Kaap. Hy het vir my beskryf dat nadat die strate oop gestoot was met die stootskrapers die walle modder en grond soos walle langs die motor was wat bokant die motor se dak uit uitgetoring het. Ons was baie emosioneel en het soveel meegevoel gehad met die mense.
Dankie vir die herdenking en ook die video, my hart is ook nog steeds seer maar ook dankbaar vir diegene wat daardie tyd kon help en bymekaar staan. Veral ons weermag van 40 jaar terug – in vergelyking met vandag – waar ons geen weermag het nie wat so kan optree om mense te help – ons land lyk en is vandag soos die ramp van destyds – in totale verwoesting op alle vlakke met die huidige onbevoegde kern verrotte goddelose korrupte ANC regering. Groter ramp kon ons land seker nie tref nie. Groot hartseer verseker.

Casper ·

Dit was sekerlik skrikwekkend om op so manier die verwoestende krag van water te ervaar.Ek dink niemand in Laingsburg sou kon dink dat ‘n ramp hom sou afspeel in hulle dorpie nie.Hoe kan van die mense daar afsluiting vind as van hulle geliefdes se liggame nooit gevind is nie.Selfs nou 40 jaar later is wonde nog nie genees nie en die herrineringe sal mense altyd bybly.

Piet Snot ·

Daniel Jacobs, my pa het jou pa altyd hoog geag.
Daniël.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.