Landboubedryf werk hard om logistieke probleme te pak

Jaco Oosthuizen (IFPA SA Landsraadsvoorsitter), Antoinette van Heerden, (logistieke sakebestuurder by Varsprodukte Uitvoerders Forum), en Jane Strijdom (IFPA SA Landbestuurder) (foto: verskaf)

Suid-Afrika is afhanklik van ʼn funksionele logistieke netwerk vir ekonomiese groei. In hierdie stadium verloor die land egter sowat R1 miljard per dag weens die onderprestasie van die land se spoornetwerk, terwyl ondoeltreffendheid by hawens die ekonomie daagliks sowat R200 miljoen in direkte en indirekte koste kos.

Volgens Mike Walwyn, ʼn direkteur by South African Freight Forwarders (SAFFE), is vennootskappe tussen die openbare en private sektor die enigste lewensvatbare manier om die kwessies wat die land se hawens in die gesig staar, te identifiseer en op te los. Walwyn sê die private sektor speel ʼn sleutelrol in die mobilisering van befondsing, die verskaffing van kundigheid en samewerking met die regering om die bedryf te hervorm.

Antoinette van Heerden, logistieke sakebestuurder by die varsprodukte-uitvoerdersforum (FPEF), sê dat ʼn tekort aan toerusting, onklaarrakings en weerstoestande die hooffaktore is wat doeltreffende hawebedrywighede beïnvloed.

Krish Reddy van Business for South Africa sê ook “die vrugtebedryf het mense al lank oor hierdie gevaar gewaarsku”.

Na raming kos die logistieke krisis die Suid-Afrikaanse ekonomie daagliks R1 miljard en ʼn oplossing hiervoor is dringend nodig. By die nasionale logistieke krisiskomitee (NLCC) vervul die sakesektor ʼn aantal rolle, onder meer om diverse belanghebbendes bymekaar te bring, alternatiewe finansieringsopsies te bied, te help met die inwerkingstelling van beste praktyke, die verskaffing van tegniese kundigheid en die verskaffing van toegang tot hulpbronne en vaardigheid.

Theo Boshoff, uitvoerende hoof van Agbiz, het die verskeie wetlike en regulatoriese fasette van die hawe-omgewing uitgestippel. Vrugtemaatskappye het in Januarie vergader om hul kommer te bespreek nadat vrageienaars in die verlede verliese gely het wat uitvoerders van bederfbare goedere die kwaaiste geraak het.

“Dit is belangrik dat verskillende sektore van die ekonomie by mekaar leer en dit is ewe belangrik dat verskillende vrugtesektorliggame leer van mekaar,” sê Boshoff.

Die hoof van die SA Tafeldruifbedryf (Sati), AJ Griesel, het terugvoer oor die onlangse tafeldruifseisoen en planne om logistiek in die nabye toekoms te verbeter, gegee.

Een van die planne wat oorweeg word, is om modelle van vrugtevloei op te stel en vroeë waarskuwingstelsels oor moontlike opeenhopings in te stel, terwyl die situasie reggestel word.

Daar is intussen steeds kommer oor die Durban-hawe se vermoë om vanjaar se verwagte oes te hanteer. Die grootste gevaar is weens wanfunksionele toerusting. Die hawe het ʼn tekort aan bepaalde toerusting en sommige van die ander toerusting is verouderd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.