Landbouminister gemaan om Botswana-krisis op te los

Argieffoto (Foto: Du Preez de Villiers/Maroela Media)

Die DA is uiters besorg oor die onlangse aankondiging van Botswana se verlenging van invoerbeperkings op varsprodukte van Suid-Afrika.

“Ons neem kennis van Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, se pogings om gesprekke te bewillig deur die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Botswana om die kwessie aan te roer,” sê Noko Masipa, die DA se skaduminister oor landbou. “Ons verwelkom hierdie inisiatief, maar dit is kommerwekkend dat ʼn vergaderdatum nog nie belê is nie.”

Masipa sê dit is noodsaaklik dat ʼn vergadering so vinnig as moontlik belê moet word, aangesien boere reeds omvattende uitdagings beleef.

“Die boere vervaardig goedere vir hul markte, en diegene wat spesiaal vir die Botswana-mark geplant het, kan nou nie hul produkte verkoop nie. Suid-Afrika het boonop nie enige meganismes om boere teen só mark-ontwrigting te beskerm nie, in teenstelling met Botswana en ander lande wat hul boere prioritiseer deur kortings en beskermingsmaatreëls.”

Die DA ondersteun die beginsels van ʼn vrymark-ekonomie en ontmoedig enige tipe anti-mededingende markregulasies wat deur handelsvennote opgelê word. “Ons doen ʼn beroep op die ANC-regering om sy posisie oor die situasie beslissend te kommunikeer.”

Minister Didiza het onlangs tydens ʼn televisie-onderhoud die uitdagings uitgelig wat Suid-Afrikaanse boere beleef, insluitend die impak van die Russiese oorlog in Oekraïne, die kragkrisis en veesiektes.

“Die kwessies word vererger deur die ANC-regereing se versuim om boere proaktief teen sulke skokke te beskerm. Die wortel van die probleme wat boere teister, lê in swak ANC-regering, die gebrek aan duidelike prioriteite, korrupsie, wanbestuur en ondoeltreffende geopolitieke strategieë,” sê Masipa.

“Die ANC se belyning met kommunistiese, oorlogstoker-lande wat nie die oppergesag van die reg respekteer nie, vererger die situasie. Dit het ʼn negatiewe impak op ons ekonomie en dra by tot toenemende werkloosheid.”

Die DA maan minister Didiza en haar departement om doeltreffend met Botswana saam te werk om ʼn langdurige oplossing vir streekboere te vind. “Ons versoek ook deursigtige en gereelde kommunikasie om boere en die Suid-Afrikaans publiek op hoogte te hou. Die DA sal met die minister korrespondeer om navraag te doen oor die verwagte datum van die gesprekke en die stappe wat sy van voornemens is om te doen indien Botswana met sy huidige standpunt volstaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.