
Mense staan in Desember in ellelange toue by die Beitbrug-grenspos tussen Suid-Afrika en Zimbabwe. (Argieffoto)
Suid-Afrika se landsgrense sal na verwagting Maandag heropen, maar met streng veiligheidsmaatreëls en planne om te verseker Covid-19-toetse kan vinnig by die grensposte by veral Beitbrug en Lebombo gedoen word.
Die grense is verlede maand gesluit te midde van die tweede golf Covid-19-infeksies. Dit het benewens die grensposte by Lebombo en Beitbrug ook die sluiting van die Maserubrug-, Oshoek-, Ficksburg- en Kopfonteingrenspos ingesluit. Dit is sommige van Suid-Afrika se besigste landsgrensposte.
ʼn Humanitêre krisis het vroeër by die Beitbrug- en Lebombo-grenspos afgespeel toe duisende mense dae lank in toue gewag het om die grens oor te steek.
Die minister van binnelandse sake, Aaron Motsoaledi, het die parlementêre komitee oor hierdie portefeulje Dinsdag op die hoogte gebring van die departement se gereedheid om grense te heropen.
Motsoaledi het aan die komitee gesê sy departement beraadslaag met onder meer die departement van gesondheid om ʼn plan te finaliseer vir die beoogde heropening. Sodra dit afgehandel is, sal die plan aan die nasionale gesamentlike operasionele en intelligensiestruktuur (NatJoints) vir goedkeuring voorgelê word.
Van die sleutelkwessies wat gepak moet word sluit in bykomende kapasiteit om Covid-19-toetse te doen. ʼn Kaartjiestelsel en beperking op hoeveel mense in toue mag wees word beoog en planne is beraam om sosiale afstandhandhawing af te dwing en meer wetstoepassers te ontplooi.
Die opeenhoping van vragmotors wat wag om die grense oor te steek was vroeër ʼn groot probleem. Die departement beoog nou om spesifieke maatreëls in werking te stel om ʼn herhaling van die situasie te voorkom. Dit sluit in die bepaling dat geen toue langer as 700 m tussen die weegbrug en die grenspos toegelaat gaan word nie.
Volgens Motsoaledi was daar ook samespekings met buurlande om operasionele tye in ooreenstemming met die aandklokreël te bring.
Adv. Bongani Bongo, komiteevoorsitter, sê hulle is tevrede met die plan wat binnelandse sake in samewerking met ander departement voorgelê het.
“Die komitee het egter gewaarsku dat planne niks beteken as dit nie behoorlik in werking gestel word nie,” het Bongo gesê.
Hy sê ʼn gebrek aan grensgesondheidsbeamptes was een van die grootste oorsake van die krisis wat by die grensposte ontstaan het en die departement se planne om werk te maak daarvan, word verwelkom.
Volgens Bongo was ʼn geïntegreerde plan tussen Suid-Afrika en sy bure uit die staanspoor nodig. Die situasie het net weer die behoefte aan ʼn behoorlike plan vir die medium- en langtermyn benadruk – veral gegewe die komende Paasnaweek en ʼn verwagte toename in mense wat die grense wil oorsteek.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
14 Kommentare
Ja nee kyk hier stroom Afrika weer in met n magsdreuning…
Die planne sluit in “die bepaling dat geen toue langer as 700 m tussen die weegbrug en die grenspos toegelaat gaan word nie” – so nou gaan die toustanery net voor die weegbrug gebeur – wat ‘n grap.
En hier kom nog Covid infections – nog
n verdere rede om alles op hou te sit!
n rede wees wat julle ANC Kaders gaan aanvoer, vir verdere inperkings en meer skade aan ons land se ekonomieAg nee wat - julle gaan die ding nooit uitroei nie, want dit gaan nog
Daarmee voer hulle die virus in en ons moet betaal
Nes die infeksies daal dan jaag julle dit weer op.Vergeet van die spuitstof en inperking. Stel die inperking af sodat ons kan aangaan met ons lewens en die ekonomie op die been kan kry.