Lang pad na herstel vir Kruger-aasvoëls

Witrugaasvoëls. (Foto: Verskaf)

Daar wag ʼn lang pad van herstel vir die klompie aasvoëls wat verlede week in die Punda Maria-gebied van die Krugerwildtuin vergiftig is. Veeartse is boonop onseker of die voëls enige langtermynskade weens die vergiftiging opgedoen het.

Altesame 107 aasvoëls en een hiëna het Donderdag gevrek nadat hulle vermoedelik aan ʼn buffelkarkas gevreet het wat vergiftig is.

Slegs 30 aasvoëls het die vergiftiging oorleef. Ses hiervan het gevrek, terwyl die res aansterk by die Moholoholo-rehabilitasiesentrum in Limpopo. Die voëls is in ʼn kritieke toestand, maar stabiel.

Die vergiftigde voëls is almal witrugaasvoëls – die mees algemene soort aasvoël wat in Suider-Afrika voorkom. Onder die voëls wat oorleef het, is daar ʼn klompie volwasse aasvoëls en ʼn paar aasvoëls wat tussen drie en vier jaar oud is.

Dr. Gareth Tate, programbestuurder van roofvoëls by die Bedreigde Natuurlewe Trust, sê die trust, saam met die span van Moholoholo-sentrum, het verlede week van die voëls wat oorleef het van noodbehandeling voorsien. Daarna is die voëls na die rehabilitasiesentrum, wat ook die trust se vennote is, oorgeplaas waar hulle verdere behandeling ontvang.

“Die Moholoholo-sentrum is ʼn integrale deel van die rehabilitasieproses. Die sentrum het al talle voëls in en om die Krugerwildtuinarea behandel en weer op die been gebring,” sê Tate.

“Die aasvoëls wat in hul sorg is, is tans stabiel, maar daar wag nog ʼn lang herstelpad op hulle.”

Vir die volgende twee weke sal die aasvoëls intensiewe behandeling ontvang om te verseker dat meeste van die gif uit hul stelsels gespoel word. Die voëls is reeds middels toegedien wat sal help om die effek van die gif teen te werk.

“Dit is soms nodig om geaktiveerde houtskool aan die voëls te gee. Die houtskool help om die gif te absorbeer – dit dien as ʼn bindmiddel wat die gif stabiliseer en makliker maak om uit die voëls se stelsels te kry,” sê Tate.

“Meeste gif wat diere of mense inneem werk vinnig sodra dit in die se bloedstroom opgeneem word, daarom word die aasvoëls se vloeistofvlakke met buise aangevul. Hulle benodig tans byna elke uur een of ander soort behandeling en moet voortdurend gemonitor word.”

SANParke het Dinsdag gesê dat die soort gif wat die voëls ingeneem het, nog nie geïdentifiseer is nie en dat hy steeds besig is om die tipe gif vas te stel.

Sodra die gif geïdentifiseer is, sal SANParke saam met die polisie werk om enige verband met onwettige bedrywighede uit te wys.

“Ons hou duim vas dat die aasvoëls wat tans behandeling ontvang, sal oorleef,” het SANParke in ʼn private Facebook-inskrywing gesê.

“Ons wil die betrokke veeartse opnuut bedank vir hul 24 uur lange pogings om soveel aasvoëls as moontlik te red.”

Toekoms van aasvoëls onduidelik

Volgens Tate is die veeartse nog nie seker watter langtermynskade die aasvoëls opgedoen het weens die vergiftiging nie.

“Oor die algemeen herstel voëls soos hierdie baie vinnig as hulle gif ingeneem het, juis omdat hulle stelsels die gif maklik kan afbreek. Dit gebeur wel dat die gif soms in die voëls se vetvoorrade gestoor word en dan in die metaboliese stelsel inbeweeg. Van die newe-effekte van die gif kan dan weer te voorskyn kom,” sê hy.

“Ons sal wel die voëls se herstel voortdurend kan monitor wanneer hulle vrygelaat word, omdat hulle met ʼn opsporingstoestel toegerus sal word.”

Dit is nie in hierdie stadium duidelik wanneer die voëls vrygelaat gaan word nie, aangesien die veeartse nog onverpoos werk net om die voëls aan die lewe te hou.

“Die aasvoëls is almal nog in intensiewe sorg, so dit kan nog lank wees voordat hulle volkome herstel het om vrygelaat te word.

“Wanneer die tyd kom om hulle vry te laat, sal ons Moholoholo ook bystaan daarmee.”

Die polisie se ondersoek na die vermeende vergiftigingsvoorval duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johan ·

Toemaar, die Olifante is ook besig om honderde jare se verwoesting te saai. Noem dit maar n Olifantplaas, want niks anders gaan oorbly nie.

Madelein ·

Elke dag is n stryd tussen goed en kwaad op die ou aarde van ons. Als wat ek kan sé is: God slaap nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.