Lang tronkstraf vir bendeverkragters wat Hazyview teister

(Argieffoto)

Twee reeksverkragters wat inwoners van Hazyview in Mpumalanga jare lank getreiter het, is swaar tronkstraf opgelê vir hul “vlaag van terreur”, soos die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) daarna verwys het.

Die hooggeregshof het Nicolus Hendry Mhlongo (25) twee lewenslange vonnisse en 71 jaar tronkstraf opgelê nadat hy skuldig bevind is aan twee aanklagte van verkragting, drie aanklagte van roof met verswarende omstandighede, twee aanklagte van ontvoering, sewe aanklagte van huisbraak, ʼn aanklag van opsetlike saakbeskadiging en vier aanklagte van diefstal.

Reginald Dibakoane (26) is twee lewenslange vonnisse en 48 jaar tronkstraf opgelê nadat hy skuldig bevind is aan twee aanklagte van verkragting, twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede, twee aanklagte van huisbraak, twee aanklagte van ontvoering, diefstal en opsetlike saakbeskadiging, het Monica Nuyswa, woordvoerder van die NVG, gesê.

Die misdade is tussen Maart 2012 en Maart 2016 in Hazyview gepleeg.

Die twee het private huise in die woonbuurte geteiken.

Tydens een van die voorvalle op 25 Februarie 2015 het die twee by ʼn huis in Oxpecker Walk in Hazyview ingebreek, drie inwoners aangerand en ʼn vroueslagoffer na ʼn beboste gebied in die Bosbokrand-omgewing geneem waar hulle haar om die beurt verkrag het.

Die twee het motorsleutels by die vroueslagoffers geëis, drie selfone, twee skootrekenaars en bankkaarte gebuit en in die haar voertuig van die toneel gevlug. Die motor is later in ʼn bos aan die brand gesteek.

Die volgende dag het hulle R1 300 uit die slagoffer se rekening by ʼn kitsbank onttrek.

In nog ʼn voorval is Mhlongo en Dibakoane na ʼn ander slagoffer se huis. Hulle het die deur oopgebreek, maar laat spaander nadat ʼn inwoner van ʼn onbewoonde gebou op dieselfde perseel op hulle afgekom het.

Dieselfde nag het hulle egter teruggekeer waar twee mense besig was om die gebreekte deur te herstel. Hulle het ʼn vuurwapen op die slagoffers gerig en is die huis binne waar hulle huishoudelike items en gereedskap gesteel het.

Hulle het die vrou beveel om saam met hulle na ʼn bos te gaan, waar hulle haar ook om die beurt verkrag het.

Hulle het haar aangesê om haar in ʼn nabygeleë stroompie te was en het daarna gevlug.

ʼn Verbygaande veiligheidswag het op haar afgekom en haar teruggeneem huis toe.

Mhlongo is danksy DNS-bewyse met die misdaadtoneel verbind.

Vingerafdrukke het hom met verskeie van die ander tonele verbind en albei mans is by uitkenningsparades deur die slagoffers uitgewys.

Dibakoane is deur ʼn selfoon wat by een van die slagoffers gesteel is – en wat by sy vriendin gevind is – met die misdaad verbind, het Nuyswa gesê.

Die gesteelde gereedskap is by sy ouers se huis gevind, terwyl videobeeldmateriaal gewys het hoe hy die geld by die kitsbank onttrek.

Mhlongo en Dibakoane het volgehou dat hulle geensins by die misdade betrokke was nie.

Die slagoffers het in die hof getuig oor die spesifieke rol wat die mans onderskeidelik in die misdade gespeel het, asook die verloop van omstandighede tydens die voorvalle.

Adv. Sonja Ntuli, senior staatsaanklaer, het tydens slotbetoë aangevoer die twee toon geen berou nie. Die slagoffers is in die privaatheid van hul eie huise oorval waar hulle veronderstel was om veilig te wees.

Ntuli het ook aangevoer ʼn duidelike boodskap moet gestuur word dat gedrag soos dié glad nie geduld word nie en dat wetsgehoorsame burgers juis van die howe verwag om gepaste vonnisse op te lê.

Die vonnisse word gelyklopend uitgedien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sarel ·

1. Word die vonistydperke aaneenlopend uitgedien?
( Kermetkend aan SA)
2. Hoe lank voor hulle op Parool is? Sien niks van gedn Parool nie

Gemaskerde Sopbeen ·

Ek sal liewer dit wat ek wou sê nie neerpen nie. Ek wil nie gearresteer word nie.

Cherokee ·

‘inwoner van ‘n onbewoonde gebou…’ is ‘n glimlag werd.
Die laaste sin doen afbreek aan wat goeie nuus kon wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.