Lang tronkstraf vir Transnet-brandstofboewe

(Foto: Unsplash)

Transnet Pipelines (TPL) het Maandag die swaar vonnis wat in die Vosloorus-landdroshof aan twee brandstofdiewe opgelê is, verwelkom.

Die twee beskuldigdes is in Mapleton in Gauteng vasgetrek nadat hulle met ʼn vragmotor wat ses vloeibakke vervoer het – waarvan vyf met diesel gevul was – op die vlug probeer slaan het. Altesame 4 570 liter diesel met ʼn geraamde waarde van R152 638 was in die vragmotor.

Die hof het die volgende vonnisse op die twee aanklagte opgelê:

  1. 15 jaar vir die peuter met noodsaaklike infrastruktuur.
  2. 10 jaar vir die diefstal van brandstof.

Die helfte van die tweede vonnis sal gelyklopend met die eerste vonnis uitgedien word.

TPL het sy waardering aan wetstoepassingsagentskappe en diensverskaffers betuig vir hul toegewyde pogings om die inhegtenisnemings te verseker.

“Die merkbare afname in brandstofdiefstalvoorvalle en die toename in skuldigbevindings met aansienlike vonnisse is ʼn aanduiding van die sukses van hierdie inisiatiewe. Ons sal voortgaan met ons onwrikbare pogings totdat hierdie misdaad heeltemal uitgeroei is,” het Sibongiseni Khathi, waarnemende uitvoerende hoof van Transnet Pipelines, gesê.

“Hierdie uitspraak stuur ʼn sterk boodskap aan voornemende oortreders en misdaadsindikate.

“Ons doen ʼn beroep op lede van die publiek om enige verdagte aktiwiteite langs die Transnet-pypleiding by 0800 003 056 aan te meld.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wondermaarnet ·

Mooi so. Nou wag ons vir die eskom diesel diewe om gevonnis te word.

Karoo ·

Dis net die punt van die ysberg…. maar knap gedaan, nou wag ons in afwagting of hulle wel gaan sit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.