Lara laat rekord spat!

Argieffoto van Lara van Niekerk tydens die Wêreldkampioenskap in Boedapest. Foto: Ferenc Isza/AFP.

Suid-Afrikaanse swemmers stel selde teleur op die groot verhoog en hul openingsalvo by die Statebondspele in Birmingham was geen uitsondering nie.

Lara van Niekerk het die 50 m-Statebondborsslagrekord na 29.82 sekondes in haar uitdunronde verbeter, terwyl Tatjana Schoenmaker (30.76 sekondes) en Kaylene Corbett (31.07 sekondes) ook na die halfeindstryd deurgedring het.

Die 19-jarige Van Niekerk het vroeër die brons medalje in die einste item by die Wêreldkampioenskap in Boedapest met haar tyd van 29.90 sekondes ingeoes.

Dan het die opwindende Matthew Sates sy plek in die volgende ronde van die 400 m-vryslagitem bespreek toe hy derde in sy ronde met ’n tyd van 3:49.69 minute geëindig het.

In die 50 m-vlinderslag het Chad le Clos (23.80 sekondes) en Clayton Jimmie (24.17 sekondes) hul staal gewys om vir die halfeindstrydronde te kwalifiseer.

Die 30-jarige Le Clos – wat reeds met 17 Statebondspele-medaljes in sy vertoonkas spog – benodig net twee podiumplekke om die rekord vir die meeste medaljes by dié internasionale sportskouspel te verbeter.

  • Uitslae:

400 m-vryslag: Andrew Ross (3:58.44 minute) en Matthew Sates (3:49.69 minute)

400 m- individuele wisselslag: Rebecca Meder (4:51.65 sekondes)

200 m-vryslag: Michaela Pulford (2:01.21 minute) en Aimee Canny (2:00.10 sekondes)

50 m-vlinderslag: Clayton Jimmie (24.17 sekondes) en Chad le Clos (23.80 sekondes)

50 m-borsslag: Kaylene Corbett (31.07 sekondes), Tatjana Schoenmaker (30.76 sekondes) en Lara van Niekerk (29.82 sekondes).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.