Le Clos wil vanaand geskiedenis maak

Chad le Clos by die swemsentrum in Birmingham waar hy later vandag deelneem. (Foto: Facebook/ Chad le Clos)

Die Suid-Afrikaanse swemkampioen Chad le Clos wil Sondagaand geskiedenis maak deur sy 18de medalje by die Statebondspele, dié keer in Birmingham, in te oes. Sou hy vanaand ʼn plek op die podium losswem, sal hy net een van drie atlete wees om nog ooit soveel medaljes by die Spele te wen. Hy sal dan ook die eerste swemmer en eerste Suid-Afrikaner wees om dit te doen.

Die skietkampioene Phil Adams (Australië) en Michael Gault (Engeland) is die enigste ander atlete wat ooit 18 medaljes by die Spele kon behaal.

Dit is boonop vandag presies tien jaar gelede dat Le Clos (30) vir Michael Phelps tydens die 2012- Olimpiese Spele in Londen geklop het. Hy sal vanaand by die Sandwell- akwatiese sentrum in dieselfde baan swem as toe hy vir Phelps presies ʼn dekade gelede laat les opsê het. “Dis dieselfde dag, dieselfde land en selfs dieselfde baan. Dis nogal spookagtig en ʼn baie groot dag vir my, maar ek het die emosie uit die dag gehaal, want ek moet vanaand koelkop bly en my plan deurvoer,” het Le Clos Sondag aan AFP gesê.

Hy het vanjaar tweede gekwalifiseer vir vanaand se 200 m-vlinderslag, ʼn raps stadiger as die Nieu-Seelander Lewis Clareburt. Le Clos hou tans die wêreldrekord in die 200 m-vlinderslag.

Les Clos het egter vroeër vanjaar ʼn terugslag gehad, toe hy noodgedwonge aan die Wêreldkampioenskap in Boedapest moes onttrek. “Ek sukkel die afgelope drie weke met my asemhaling weens verskeie gevalle van brongitis wat my die afgelope tyd beetgepak het. My fokus is nou op die Statebondspele,” het hy op 20 Junie op Facebook geskryf.

Tatjana Schoenmaker sal Suid-Afrika ook vanaand verteenwoordig in die 200 m-borsslag, waarvoor sy met die vinnigste tyd gekwalifiseer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.