Leerder rig vuurwapen op onderwyser, trek sneller

Carla Ferreira en haar man (Foto: Verskaf)

ʼn Jong onderwyseres van Hoërskool Welkom-Gimnasium in die Vrystaat sê sy twyfel of haar lewe ooit weer dieselfde sal wees ná ʼn gr. 9-leerder ʼn vuurwapen op haar gerig en die sneller getrek het.

Carla Ferreira (29), ʼn Afrikaans- en Engels-huistaal-onderwyseres, sê die laaste keer dat sy ʼn ordentlike nagrus kon inkry, was meer as drie maande gelede, “voor die leerder hierdie verskriklike ding aan my gedoen het”. Die voorval het op 22 Augustus plaasgevind.

Onderwyskenners sê boonop onderwysers word gereeld deur dié soort geweld by die skool gedreig.

“Ek sien nou nog hoe die seun my in die oë kyk, ʼn geweer op my rig en dan die sneller trek. Ek het my lewe sien verbyflits. Ek het my kinders sonder ʼn ma sien grootword,” vertel Ferreira.

Geen koeël is afgevuur nie en die leerder beweer dit was net ʼn speelgoedgeweer. Vir Ferreira is dit ‘n bysaak.

“Volgens die sielkundige het ek in daardie oomblik ʼn doodservaring gehad, en wanneer ʼn mens deur so iets gaan, verander dit die manier hoe jy dink.”

Volgens Ferreira neem die departement van onderwys (haar werkgewer), asook die graadhoof, die skoolhoof en die polisie nie die voorval ernstig op nie.

“In 2009 was daar ook ʼn skietvoorval by hierdie skool. ʼn Mens sou dink dit is vir die skool ʼn ernstige oortreding. Ek moes egter hoor ‘dit was nie so erg nie’ en ‘waarom huil jy dan nog steeds?’.”

“ʼn Week later het ek ʼn senuwee-ineenstorting gehad.”

Sy sê die skool wou eers glad nie die saak by die polisie of departement van onderwys aangee nie.

“Die skool het ook langer as twee weke geneem om die leerder te verhoor en omdat dit so lank gevat het, kon die leerder nie permanent uit die skool verwyder word nie.”

(Foto: Facebook/Welkom-Gimnasium)

Die departement van onderwys het boonop nog geen kontak met haar gemaak nie. “Hulle het absoluut geen ondersteuning aan my gebied nie.”

Sy sê die kersie op die koek was toe die ondersoekbeampte haar bel en vra of sy die saak sal laat vaar omdat dit van die hofrol geskrap is.

“Volgens die ondersoekbeampte is daar geen getuies van die voorval nie, maar dié het nie eens die beeldmateriaal van die voorval by die skool gaan afhaal nie. Dít nadat ek sewe uur lank in die Welkom-polisiestasie moes sit om ʼn saak oop te maak,” sê Ferreira.

Alfred Prinsloo, voorsitter van die beheerliggaam, sê die skoolbeheerliggaam het dadelik reageer nadat hulle versoek is om ʼn voorval te ondersoek waartydens ʼn leerder ʼn speelgoedpistool op ʼn opvoeder gerig het.

“Nadat die beheerliggaam ʼn voorlopige ondersoek gedoen en die nodige inligting ingesamel het, is die leerder op 11 September vanjaar ingelig dat ʼn dissiplinêre verhoor sal plaasvind.”

Hy sê videomateriaal van die skool se kringtelevisiestelsel het die voorval bevestig en dat dit ook by die Vrystaatse onderwysdepartement aangemeld is.

“Die leerder se ma en ʼn regsverteenwoordiger het hom na die dissiplinêre verhoor vergesel. Hy is skuldig bevind aan intimidasie en ʼn gebrek aan respek teenoor ʼn opvoeder van die skool.”

Prinsloo sê die leerder is van 10 tot 18 Oktober vanjaar tydelik geskors. Hy moet ook 12 uur skoolgemeenskapsdiens doen en drie verpligte sessies met ʼn jeugwerker onderneem.

Hy het ook opgeskorte uitsetting van een jaar gekry. Sou die leerder dus skuldig bevind word aan dieselfde of ʼn soortgelyke oortreding tot Desember 2024, sal hy permanent geskors word.

“Vir enigiemand is dit ʼn traumatiese ervaring wanneer ʼn vuurwapen op hulle gerig word, selfs al word later vasgestel dat dit geen werklike vuurwapen was nie,” sê Prinsloo. “Sulke gedrag in ʼn skoolomgewing kan hoegenaamd nie geduld word nie. Gegewe die hoë vlakke van geweldsmisdaad in Suid-Afrika is dit ons plig as volwasse rolspelers in ʼn skoolomgewing om toe te sien dat leerders ingelig is oor die gevolge van sulke gedrag.”

Dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van Fedsas, sê dié soort voorvalle is totaal onaanvaarbaar, maar dit gebeur helaas gereeld.

“Ons het juis Maandag weer ʼn lang vergadering met die Suid-Afrikaanse Onderwysersvakbond (SAOU) gehad. Ons sien toenemend hoe jong onderwysers die onderwysstelsel weens soortgelyke voorvalle verlaat. Onderwysers werk in omstandighede waar die administrasie en werkslading net te veel is, of hulle sit met ʼn moeilike klomp leerders. Dit is nie vir hulle lekker werksomstandighede nie en ons onderwysstelsel kan nie bekostig om onderwysers te verloor nie.”

Hy meen dit gaan nie meer net oor reëls nie.

“Ons het ʼn dieper gesprek in die samelewing ook nodig oor respek vir gesag en ander mense se gevoelens. Dit is van sleutelbelang om seker te maak leerders kry hierdie boodskap.”

Maroela Media het verskeie navrae aan die departement van onderwys gerig, waarna hulle laat weet het dat die voorval ondersoek word.

Die polisie is ook om kommentaar genader en hul terugvoer sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Roek ·

Baie sterkte vir jou , vasbyt en onthou jy was die slagoffer en moet jy maar gereed maak vir baie teenstand , ek het dit ondervind en was dit moeilik maar het oorwin !

electricmango ·

Daar is by my nie twyfel dat dit n seun was wat nie van europese afkoms is nie. Jammer dame jy veg n verlore stryd.

Blikkies ·

Sulke gedrag word toegelaat by die huis, en dit is waar die grondslag van jou opvoeding begin. Ek veralgemeen nie, maar jammer dat so baie ouers hulle kinders se wanopvoeding goedkeur, omdat hulle self geen behoorlike opvoeding ken nie.

PoepieDik ·

Laat n onderwyser nou dit met n leerder doen.. dan is die gort gaar. Hoe gouer die soort van optrede daadwerklik en sonder enige huiwering behoorlik vasgevat word hoe beter

Karoo ·

VRAAG: Sou die reaksie dieselfse gewees het as die onderwyser dit aan ‘n leeder gedoen het???? Ek dink nie so nie.

Phillip ·

Ja as dit n wit k8nd was teenoor swart onserwyser was die hel los. Dis n duiselike saak van rig van n vuurwapen. Volgens wet en ek kan verkeerd wees mag jy geen vuurwapen speelding of nie rig op iemand nie. Ek hoop sy kry hulp by afriforum se privaat vervolging

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.