Lesufi beloof werkskepping; dié wat werk sit egter sonder sent

Panyaza Lesufi maak al weer beloftes oor werkskepping terwyl hy steeds nie voriges nagekom het nie. (Foto: ANC/Twitter)

Panyaza Lesufi, die Gautengse premier, het Donderdagoggend werklose mense genooi om hierdie naweek by hul naaste skool te gaan registreer vir werk- en vaardigheidsprogramme. Dít terwyl 300 nuwelinge wat gewerf is vir ʼn ánder een van sy sogenaamde werkskeppingsprogramme al twee maande wag vir betaling.

Lesufi het in November ʼn massawerwingsprogram genaamd Nas’i iSpani in die provinsie van stapel gestuur. In ʼn advertensie op X op 6 November het hy werklose matrikulante, gegradueerdes en mense met diplomas genooi om aansoek te doen vir vaste termyn- kontrakte as verpleegassistente, professionele verpleegsters, personeelverpleegkundiges, assistent-gemeenskapsontwikkelingspraktisyns, gemeenskapsontwikkelingspraktisyns en maatskaplike werkers.

Van dié jong mense, almal in diens van Gauteng se departement van maatskaplike ontwikkeling, het egter sedert die aanvang van die program in Februarie nog nie ʼn sent van hulle salarisse gesien nie.

Funzi Ngobeni, Action SA se premierskandikaat in Gauteng, sê hulle het Lesufi herhaaldelik gewaarsku om nié miljoene jong mense se desperaatheid te gebruik vir sy eie selfsugtige politieke gewin nie.

“[Pleks daarvan] het Lesufi sy foefies verdubbel met die bekendstelling van indiensnemingskemas soos die “Green Army” [wat gefokus het op toesigbesoeke by die K69-, K54-, D483- en P241-padbouprojek], die “Aga le Rona-padwerkers en “Sawbona Mhali [ʼn deur-tot-deur-diens wat maatskaplike dienste na mense se huise sou neem].”

Nkululeko Dunga, EFF-voorsitter in Gauteng, het ook gesê hulle is diep ontsteld dat Lesufi en die Gautengse regering in Februarie laas die nuwelinge betaal het.

Na wat berig word, het amptenare aan die nuwelinge gesê daar is nie geld om hulle te betaal nie.

“Dit is duidelik hierdie massa-indiensnemingskemas word nie geskep met die opregte bedoeling om werk te skep nie; maar eerder as ʼn ANC-verkiesingstaktiek.”

Hy sê met ʼn werkloosheidsyfer van meer as 60% onder die jeug is dit ontmoedigend om te sien hoe onverantwoordelik en bedrieglik politici met jong mense se lewens omgaan.

Sommige van die Nas’i iSpani-nuwelinge is uit hul blyplekke geskop omdat hulle nie die huurgeld kon betaal nie en ander kon nie hul universiteitsopleiding voltooi nie, berig News24. Ses nuwelinge het aan die webwerf gesê hulle was só honger dat hulle hul werkgewers gesmeek het vir een van die kospakkies wat hulle aan armes uitgedeel het. Dié versoek is geweier.

Die Nas’i iSpani-advertensie was vir 311 poste, met jaarlikse salarisse wat wissel van R166 869 (R13 905 per maand) tot R424 104 (R35 342 per maand). Van die jong mense is verwag om betrokke te raak by programme soos die vir armoedeverligting. Hulle moes onder meer ʼn ontleding doen van mense wat om maatskaplike toelae aansoek doen en profiele skep vir dié aansoekers.

Een van die 311 mense, ʼn vrou met ʼn graad in maatskaplike wetenskappe, het aan News24 gesê hulle was almal opgewonde om te begin werk en salarisse te verdien. Dié drome is nou aan skerwe.

“Ek wou my studiegeld met my salaris afbetaal sodat ek my studies kon voltooi en my kwalifikasie verwerf. Duidelik gaan dit nie gebeur nie.”  Themba Gadebe, woordvoerder van die departement, het bevestig dat die werknemers nie betaal is nie. Hy kon nie sê wat die rede hiervoor is nie. Hy het nog nie op ʼn navraag van Maroela Media gereageer nie, maar het luidens berigte vroeër gesê die werknemers sal in die volgende twee weke betaal word. Hierdie nuus is aan die betrokke werkers oorgedra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Danie ·

Onverantwoordelike gedrag van n korrupte kader.Ek stem dis net om stemme te werf.Dalk moet die media in sy verlede krap dalk is daar ook n draak.

Amelia ·

Is die mense steeds nie gewoond aan leuns nie hoeveel beloftes gaan daar nog gemaak word en nie nagekom word nie voor die begin dink daar sal nie betaal word nie in elk geval nie wat weereens belowe is nie hou so aan anc miskien sal 1 uit die 10000 agter kom is net n storie

Renier ·

En steeds sal hulle almal vir die korrupte anc stem. Die anc het geen idee wat werk skepping is nie. Hulle ken wel skep,uit die trog. As iemand werklik werk kan skep,doen dit. Moet dit nie slegs se om stemme te kry nie. Skep die werk,mense sal van jou hou en vir jou stem. Juliaas het self baie poste belowe,as die eff inkom.Beleggers is op pad land uit,poste word minder. Om werk te skep,verg belegging,infrastruktuur,ontwikkeling om net n paar te noem. Ek sal dit geniet om te luister hoe die manne wat so poste belowe beplan om dit te skep.

Republikein in die Wes Kaap ·

Sterkte aan die onderwysers. Hierdie word nou julle probleem..

Kokerboom ·

Toppunt van vermetelheid, voorgee en leuens en onnoembaar vele meer!

Bolandse Nooi ·

Los maar …. Pannekoek Lesoufie gaan in die dinges gebyt word; hy kan maar skole “opdrag” gee om komende naweek oop te wees om sy sogenaamde werkskeppingsprogram te loods … as die mense nie betaal is vir hul dienste wat sy vorige “werkskeppingsprogram” gegenereer het nie, hoop ek dat die mense slim genoeg sal wees om nou finaal te besef dat die ANC nie na hul kiesers, ondersteuners en gewone burger op straat omsien nie. Hierdie gaan die ANC se “rubicon” wees – hoor my lied!!!!

Papsak ·

Ag Lesufi jy tart jou self daar mense wat werk wat nog niks geld gekry het nie alles verkiesing om stemme te werf pateties!!!!

Alex ·

Nou watter onderwyser moet nou werk op naweek verniet? Daar is nie n manier hoe dit op n onderwyser gedwing kan word nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.