Lesufi by integriteitskommissaris verkla oor sluipmoordbewerings

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng. (Foto: Jacques Naude/ANA)

Die VF Plus het Maandag ʼn formele klag teen Panyaza Lesufi, die Gautengse LUR vir onderwys, by die Gautengse wetgewer se integriteitskommissaris ingedien vir die beweringe van ʼn “sluipmoord” wat hy teen AfriForum gemaak het.

Die party meen Lesufi se gedrag strook nie met dié van ’n LUR nie.

Lesufi het in November 2019 tydens ʼn mediakonferensie in Johannesburg beweer dat AfriForum ʼn “sluipmoord” op hom wou uitvoer en gesê die organisasie het selfs sy kinders agtervolg.

Die LUR het nou, jare later, vir AfriForum gesê hy is spyt dat hy dié bewerings gemaak het en dit amptelik teruggetrek.

Anton Alberts, nasionale voorsitter van die VF Plus, sê egter nou dié bewerings is ernstig van aard en strook nie met die integriteit wat van ʼn LUR verwag word nie. Die party het dus besluit om ’n klagte in te dien sodat daar ondersoek kan word of hy kan voortgaan in sy posisie as LUR.

Alberts sê die klagte is gegrond op bepalinge van die gedrag- en etiese kode van die Gautengse wetgewer. Die VF Plus voer in die klagte aan dat Lesufi artikel 5(1) oortree het deurdat hy die wetgewer opsetlik mislei het en by tye verwys het na die gevaar teen sy eie sowel as sy familie se lewe.

Die VF Plus voer voorts aan dat Lesufi artikel 5(2) oortree het aangesien sy gedrag onversoenbaar is met sy posisie as ʼn LUR wat die hoogste integriteit vereis. Die party beskou boonop Lesufi se gedrag as ʼn oortreding van artikel 5(4) aangesien dit nie die waardigheid en integriteit van sy posisie as LUR weerspieël nie.

“Lesufi het hom oor die afgelope jare skuldig gemaak aan verskeie soorte onwaardige gedrag wat skade veroorsaak het vir lede van die publiek. Ook daardie voorbeelde sal ingedien word by die integriteitskommissaris om aan te dui dat ʼn baie ongesonde gedragspatroon bestaan van ʼn persoon wat nie die pos van LUR mag beklee nie,” sê Alberts.

Maroela Media het vroeër berig Lesufi se verweer is dat sy destydse bewerings in ʼn groter konteks beskou moet word, aangesien hy gereeld gebuk gaan onder aanvalle uit alle sfere van die samelewing.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het intussen gesê die feit dat Lesufi sy bewerings teen AfriForum terugtrek, bevestig net dat die uitlating blatante leuens was.

AfriForum het Lesufi verlede jaar vir laster gedagvaar, maar gesê die dagvaarding sal teruggetrek word indien hy sy bewerings in sy amptelike hoedanigheid terugtrek.

“Aangesien die LUR se erkenning aan AfriForum se eise voldoen, is daar geen rede om met die lasteraksie teen hom voort te gaan nie,” het Kriel gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Chris dupreez ·

Die kommisaris sal niks aan hom doen nie, hy het niks verkeerd gedoen nie want dit is ,, algemene praktyk ,, in die anc.

SjN ·

Gaan seker weer probeer om n raskaart te trek, hoop die kommitee het integriteit.

Harley Davidson ·

Dit klink vir my na ‘n mors van tyd Afriforum het hom op sy plek gesit en ek glo hy sal vorentoe dink voor hy praat,VF+ moet tyd gebruik om onderhandelinge te begin vir ‘n onafhanklike tuisstaat en ophou om hulle op te hou met beuselagtighede.

Dirk Mostert ·

Niks verkeerd om hom te melk vir skadevergoeding nie.

piet ·

Ek stem met jou saam oor hierdie. Hulle het hulself verkoop as ‘n party wat ‘n onafhanklike tuisstaat voorgestaan het. Dit blyk asof hierdie visie nie meer bestaan nie en heeltemal afgewater is. Ek kan verkeerd wees maar ek dink hulle het wegbeweeg van die onafhanklike tuisstaat idee en staan nou een of ander afgewaterde vorm van selfregering voor, maar miskien kan die VF+ kiesers ons help hier.

Frik ·

VF Plus staan nog steeds selfbeskikking voor.
Gaan lees en luister wat Dr Corne Mulder daaroor te se het.

piet ·

In watter vorm en welke stappe is in plek om dit te bevorder en uiteindelik te bewerkstellig? Dis die tipe van vrae wat vir my as kieser belangrik is want daar lyk nie vir my ‘n duidelike plan op die tafel te wees om die doelstelling te bereik nie. Het jy dalk die skakels sodat ek kan oplees, ek is werklik in die duister oor hul ideale en hoe hulle dit wil bereik. Die gevry na die bruin-kieser en ander minderheidsgroepe het ook sake vir my verder vertroebel. Veronderstel nou ‘n sekere gebied word geteiken vir selfbeskikking, gaan anderskleuriges welkom wees daar en meer belangrik hoe gaan die meer konserwatiewe element in die VF+ voel om in so ‘n gebied met anderskleuriges saam te leef?

Frik ·

Dankie aan Anton Alberts en die VF Plus.
Julle het beslis my stem!

Grassie ·

Die VF+ lyk vir my baie stil die afgelope paar jaar, selfs hierdie storie het nie veel om die lyf nie. Hulle openbaar nie eintlik veggees nie. ‘n Mens het meer van hulle verwag. Ek hoop nie hulle gaan begin steun verloor na die DA se kant toe nie.

Frik ·

VF Plus gaan geen steun verloor aan DA nie.
DA gaan baie steun afstaan aan VF Plus en VF Plus het baie veggees!

Yolandie ·

Ek sal liewer verkies dat die ANC en EFF stil bly en werk soos die VF plus. Die ander raas net om aandag van hul skelmstreke af te trek.

Henry ·

Die goed kan nie integriteit spel nie, wat staan nog dit probeer handhaaf.

Samuel ·

Waaroor al hierdie gedoe? Almal weet tog dat absoluut niks met Lesufi sal gebeur nie.

Di ·

Ek sal nie eers my tyd en energie mors op hierdie useless, korrupte, rassistiese persoon nie. Hy soek net aandag, Pateet!

Kaptein ·

As hy sulke waansinnige ,lagwekkende stories kan opdis , Kan ons verstaan waarom onderwys so patties is. Hy en sy ander nar boetie, Fikile Mamaboela laat ons lag

Leeuwyfie ·

Dis asof ‘n berg voor VF staan, maar hulle kap liewer aan die boom. Ons het VF kans gegee. Hulle kon dit met 2 hande aangegryp het, maar hulle was nêrens. Heeltemal onaktief. Hulle hou hulself heeltyd besig met onbenullighede en identiteitspolitiek, teen hul stembasis. Geen nuwe bloed word ingebring nie en hulle het geen jeug programme nie. DA en ACDP bly oor. Nie veel keuses wat ons verteenwoordig nie. Ons kort ‘n splinternuwe party met mense met ondervinding en ruggraat. Die nuwes wat ontpop is heeltemal te onervare om enigsins ‘n verskil te maak. Maar ons word geensins verteenwoordig nie. En ons slagspreuk moet verander na die Amerikaanse revolusie se slagspreuk: “no taxation without representation”

piet ·

Frik – ek is bereid om na die VF+ se standpunte te luister maar dis waar, wat het hulle byvoorbeeld in die afgelope 27 jaar gedoen om hulle oorspronklike ideale van selfbeskikking te bevorder en daadwerklik daarvoor te veg. Hulle behoort mos elke beskikbare platvorm te gebruik om hierdie ideale uit te basuin en daadwerklik aan te pak. Wat ons sien is ‘n benadering van stilswye, ek kry die idee hulle is half skaam of oorversigting om hierdie saak daadwerklik aan te pak en hul stem dik te maak daaroor. Jy kan se wat jy wil van hulle maar ander partye kan by die EFF leer hoe om jou ideale te dryf. Ek bedoel, niemand twyfel oor en waarvoor die EFF staan nie. Tyd om op te hou stilletjies in die gange te praat en te begin doen……

Jr ·

Leeuwyfie u is honderd persent reg. VF + praat net. Eerste saak wat hulle wil hof toe vat. Ek het laas nasional en plaaslik vir hulle gestem maar wat n teleurstelling

Karen ·

En ons kon natuurlik mos nou op die DA staat maak om dit te doen…. toe nie!

marius ·

Daar is net een taal wat hy sal verstaan . Maak sy sakke leeg . Punt .

Juffrou ·

Grootste rassis. Integriteit bestaan nie in sy woordeskat nie. Ook nie in die kommissie s’n nie. Hy’t politieke aspirasies dié dat hy alles probeer om in sy base se voetspore te volg.

Ria ·

Iets moet nog deur n grootkop besluit word en deurgevoer word, wat aan blankes sal bewys dat hulle almal se belange wil bevorder, nie net hul eie nie. Hy is die grootste rassis wat nie, as gevolg van sy siening, die minister van enigiets te wees nie

Johann ·

Die beginsel van geen gewete of funksionele intellek is ongelukkig hier van toepassing. Hy kan deur wie ook al van wat ook al aangekla word….sonder n gewete en intellek lewe hy in sy eie onaantasbaarheids wêreld. En as n KADER support sy mede veegrypers hom in dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.