‘Lewende legende’ Ron Thomson veg nou eie mediese stryd

Ron Thomson het sterk gefokus op die bestuur van renosterbevolkings. (Foto: www.ronthomsonshuntingbooks.co.za)

Een van die grootste jaglegendes, wildbewaarders en jag- en wildskrywers van ons tyd is Ron Thomson. Met 60 jaar se ondervinding in die natuurbewaring- en wildbedryf in suidelike Afrika, dwing hy respek by jagters en natuurbewaarders af en word hy deur sommige beskryf as ʼn lewende legende. Ander bestempel hom as ʼn jag-ikoon.

Thomson het ʼn magdom bydraes tot dié bedryf gelewer, tot so ver as Londen en die Europese Unie (EU) en wanneer hy begin praat kan jy maar aandagtig luister .

“Ek is beslis nie ʼn ‘trofeejagter’ nie en was dit nog nooit nie,” sê hy. “Ek is nie betrokke by die trofeejag-safaribedryf nie. Ek is ook nie ʼn wildboer nie, maar ek het beroepsjagters en safari-operateurs in my hoedanigheid as ʼn staatswildbewaarder administratief bestuur.”

Thomson is vanjaar 80 jaar oud en het in 1959 sy loopbaan begin slyp toe hy op 20-jarige ouderdom by die destydse Rhodesiese (nou Zimbabwiese) departement van nasionale parke en wildbestuur as sy eerste kadet-wildwagter aangesluit het. Vir 24 jaar het hy ondervinding in praktiese wildbestuur en nasionale parkbestuur in Suider-Afrika opgedoen. Hy was aan die hoof van verskeie nasionale parke in Rhodesië, waar hy die wildedierebevolking bestuur het. Daarna was hy vir ʼn jaar hoof van natuurbewaring in die voormalige Ciskei en drie jaar as direkteur van die voormalige Bophuthatswana- nasionale parkeraad.

Thomson word dalk as ʼn jag-ikoon beskou, maar hy het vir ʼn ander rede as die ooglopende gejag. “As deel van my amptelike werk in die nasionale parke om onder meer probleemdiere te beheer, het ek baie ondervinding in die ‘bestuursjag’ van olifante, buffels, leeus, luiperds en seekoeie opgedoen,” sê hy.

 

Ron Thomson (Foto: LinkedIn)

 

Thomson is ook bekend vir die baanbrekerswerk wat hy tussen 1964 en 1970 in Zimbabwe se Zambezi-vallei gedoen met die vang van swartrenosters. Sy tesis op universiteit was ook getitel “Die faktore wat die oorlewing en verspreiding van swartrenosters in Rhodesië beïnvloed”.

Daarna het hy hom tot die jagbedryf gewend en vir drie jaar as ʼn beroepsjagter in die Groot-Karoo gewerk, waar hy buitelandse jagters begelei het om hul vlaktewildtrofeë in te palm.

“Ek het egter ontdek dat professionele jag nie my sterkpunt was nie en het toe vir 30 lank as ʼn ondersoekende natuurlewejoernalis in Suid-Afrika begin werk.” Hy het 15 boeke en honderde tydskrifartikels oor wildbestuur en grootwildjag in Afrika geskryf. Vyf van sy boeke is as handboeke in wildbestuur op universiteitsvlak gebruik.

Thomson is ook ʼn opgeleide ekoloog en was vir 20 jaar lid van die Instituut vir Biologie in Londen en vir 20 jaar ʼn geregistreerde geoktrooieerde bioloog vir die EU.

Diereregte-aktivisme skep vandag ʼn groot probleem vir mense soos Thomson wat glo dat bestuursjag ʼn belangrike deel van natuurbewaring uitmaak.

Hy was ʼn stigterslid van die True Green Alliance (TGA) en vir die duur van 2016 was hy die president daarvan. In Januarie 2017 is hy as uitvoerende hoof aangestel. Hy is ook ʼn bestuurslid van die Sustainable Use Coalition of Southern Africa (SUCo-SA).

“Die TGA is by Suid-Afrika se wildbedryf geaffilieer in soverre hulle onderneem om die natuurbewaringsbedryf se gevegte te help voer om die kwaadwillige optrede van die Suid-Afrikaanse en internasionale diereregte-beweging te bestry.”

Dringende operasie nodig

Op sy rype ouderdom begin die gesondheid knou en Thomson het ʼn dringende en onvermydelike driedubbele omleidingsoperasie nodig. Hierdie ongeval het skielik gekom en die operasie kan nie uitgestel word nie.

ʼn Geldinsamelingspoging is van stapel gestuur met die professionele jagtersvereniging van Suid-Afrika (PHASA) aan die stuur van sake. Tot dusver het hulle net meer as die helfte van die teiken van R500 000 bereik om die koste van Thomson se operasie te dek.

  • Die vereniging het ʼn beroep op mense gedoen om ʼn bydrae tot Thomson se mediese onkoste te maak en hom ʼn kans te gee om voort te gaan met die uitstekende bewaringswerk wat hy doen. Besoek PHASA se webwerf om ʼn bydrae te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eclectus ·

Lees gerus sy boek MANAGING OUR WILDLIFE HERITAGE. Dit is uiters insiggewend oor hoekom die natuur nie net aan homself oorgelaat kan word nie, maar hoekom dit effektief bestuur moet word. Dit lig die noue band uit van die afhanklikheid en interaksie tussen fauna spesies, flora spesies en tussen fauna en flora self. Wat hy ook uitlig is dat bewaring spesifieke prioriteite moet hê, eers moet grond bewaar word, daarna plante en dan diere.

Annatjie ·

My man het ‘n drie dubbele hartomleidings operasie gehad . Ons ondervinding daarvan is dat dit heel moontlik jou lewe verleng maar die impak wat dit het op jou gehalte van lewe is nie baie goed nie . Ons voel ons moes ander alternatiewe behandelings nagevors het en dan miskien die operasie oorweeg het. Wat help dit as jy leef en eintlik is jy dood.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.