Lewenslank vir man wat bejaarde buurvrou verkrag

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: pixabay)

ʼn 36-jarige man is Donderdag lewenslange tronkstraf opgelê vir die verkragting van ʼn bejaarde vrou, wat sy buurvrou was en wat hy boonop al van kleintyd af ken.

Sizwe Ntwane staan sedert 2020 tereg op aanklagte van verkragting, poging tot verkragting, huisbraak asook aanranding. Die Kimberley-streekshof het hom skuldig bevind aan al die aanklagte. Hy is Donderdag in dieselfde hof gevonnis.

Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag in die Noord-Kaap, sê Ntwane is op 4 Junie 2020 in hegtenis geneem nadat hy die vorige dag by ʼn 80-jarige vrou, toe 78 jaar oud, se woning ingebreek, haar aangerand en toe verkrag het.

“Ná die voorval het die beskuldigde die aand in die slagoffer se bed deurgebring,” sê Senokoatsane.

“Hy is die volgende dag in hegtenis geneem, waarna sy borgtogaansoek suksesvol teengestaan is. Hy is sedertdien in polisieaanhouding.”

Die bejaarde het in haar slagoffer-impakverklaring uiteengesit hoe haar lewe verander het sedert die verkragting, aangesien sy haar huis moes verlaat omdat sy nou bang is om alleen te woon. Sy woon tans saam met haar suster.

Die slagoffer het aan die hof gesê dat sy nie meer na haarself kan omsien nie omdat sy ná die aanranding genoop is om met ʼn kierie rond te loop.

Die hof het ook gehoor dat die verkragter saam met die slagoffer se kleinkinders grootgeword het en haar dus vir ʼn geruime tyd persoonlik geken het.

“Die staatsaanklaer het tydens Ntwane se verhoor aangevoer dat hy nie enige berou vir sy optrede teen ʼn bejaarde lid van sy gemeenskap getoon het nie,” sê Senokoatsane.

“Die aanklaer het ook die hof gevra om nie van die voorgeskrewe maksimum vonnis vir sodanige misdaad af te wyk nie.”

Die hof het die beskuldigde skuldig bevind en hom lewenslange tronkstraf opgelê, asook ses maande vir huisbraak.

Ten spyte van die swaar vonnis het die hoofondersoekbeampte in die saak gesê dat die slagoffer se vertroue in mense nou aan flarde is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.