Lewenslank vir man wat kind verkrag, met MIV besmet

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

ʼn 42-jarige man is lewenslange tronkstraf opgelê nadat hy ʼn kind verkrag en haar met MIV besmet het. Dit terwyl hy geweet het dat hy met dié virus besmet is.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Wes-Kaap, sê die Kaapstadse streekshof het die lewenslange vonnis vir die verkragting opgelê en nog tien jaar vir poging tot moord.

Die hof het beslis dat die vonnisse gelyklopend uitgedien word en dat die man se naam op die nasionale register vir seksoortreders (NRSO) gevoeg word. Die register verhoed mense wat hulle aan seksuele misdrywe skuldig gemaak het om in die toekoms met kwesbare groepe te werk. Hulle mag ook nie ʼn kind aanneem of as ʼn pleegouer optree nie.

Ntabazalila sê die hof het voorts beslis dat die man die aard van sy vonnis bekend moet maak wanneer hy dalk in die toekoms aansoek doen vir werk. Sou hy versuim, kan hy weer tronk toe gaan of ʼn boete opgelê word.

Tydens die man se verhoor het Ruwayda Badrudeen, staatsaanklaer, verduidelik dat die man in 2016 ʼn kind wat toe sewe jaar oud was verkrag het waar sy op ʼn bank gelê en TV kyk het.

“Sy het vir niemand vertel wat gebeur het nie, aangesien sy hom as ʼn oom beskou het,” het Badrudeen gesê.

“ʼn Paar weke later is sy na ʼn kliniek geneem omdat sy siek gevoel het. ʼn Mediese ondersoek het gewys dat sy ʼn seksueel oordraagbare siekte opgedoen het, maar die toetsing vir MIV was negatief.

“Steeds het sy nie vir enigiemand vertel wat gebeur het nie. Op die dokter se versoek is sy ʼn paar weke later teruggebring vir verdere toetse. Die tweede toets het bevestig dat sy MIV-positief is.”

Sers. Luvuyo Simphiwe Goya het probeer om by die dogtertjie uit te vind wat gebeur het en nadat die polisiebeampte haar vertroue gewen het, het sy oor die verkragting gepraat.

Die man is op 7 September 2016 in hegtenis geneem op aanklag van verkragting. Daar was egter geen DNS-bewyse nie, aangesien die voorval lank ná die 72-uur periode aangemeld is.

Ntabazalila sê die beskuldigde het aanvanklik aangevoer dat hy homoseksueel is en daarom nie die kind kon verkrag het nie. Hy het egter gesê dat hy skuldig sou pleit as die staat kon bewys dat die MIV-stam wat sy opgedoen het, dieselfde as syne is.

ʼn Forensiese viroloog by Groote Schuur-hospitaal het die bloed van die dogtertjie en die man getoets, terwyl dit ook deur spesialiste by Tygerberg-hospitaal ontleed is. Toe die uitslag van die toetse eindelik bekend gemaak is, het dit bevestig dat die dogtertjie dieselfde MIV-stam as die man het.

Die man het aansoek om borgtog gedoen en is in huisarres geplaas terwyl die saak verder ondersoek is.

“Hy het by sy broer gaan bly en terwyl hy daar was, het hy na bewering sy broer se negejarige dogtertjie verkrag,” sê Ntabazalila.

“Hy sal op 6 November weer in die hof verskyn vir dié saak.”

Die man se eerste slagoffer, wat nou 14 jaar oud is, het in haar slagofferimpakverklaring gesê dat sy snags in haar bed lê en huil oor wat met haar gebeur het.

“Hy het my nie net verkrag nie, maar my ook met MIV besmet. Ek moet elke aand tablette daarvoor drink,” het sy in die verklaring gesê.

“My lewe sal nooit weer dieselfde wees nie en ek sal nie vergeet wat gebeur het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Delia ·

Hoe de….word dit toegelaat dat n man op huisarres uitgaan vir verkragting en dan in n huis gaan bly met nog n 9 jarige kind.

Oosieoos ·

Nee heeltemal verkeerde straf.
Die arme kinders is verdoem en dis sy straf neee

Rocco ·

Lewenslank in Suid Afrika is 20 jaar. Wat ‘n belaglike vonnis. Twee kinders vir lewenslank emosionele skade berokken. Waar is geregtigheid vir die slagoffers?

Karoo ·

Ek stuur gewoonlik weg van dit maar, in die geval sou die Doodstraf gepas gewees het, veral omdat hy die kinders se lewens verwoes het

Blikkantien ·

Hoekom het niemand vrae gevra nadat ‘n sewejarige kind opgeneem word vir ‘n seksueel oordraagbare siekte nie!?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.