Lewenslank vir Mihalik se moordenaars

Adv. Pete Mihalik is op 30 Oktober 2018 voor sy kinders se skool doodgeskiet. Foto: ANA

Die drie mans wat ná byna vyf jaar eindelik skuldig bevind is aan die moord op die strafregprokureur Pete Mihalik, is Donderdag lewenslank tronk toe gestuur.

Sizwe Biyela, Nkosinathi Khumalo en Vuyile Maliti is in die Kaapstadse hooggeregshof elkeen ʼn lewenslange vonnis opgelê vir die moord op Mihalik én tien jaar tronkstraf vir die twee aanklagte van poging tot moord waaraan hulle verlede week ook skuldig bevind is.

Dié aanklagte spruit uit die skote wat destyds ten tyde van die moord op Mihalik op sy twee kinders afgevuur is.

Die motor waarin Mihalik doodgeskiet is. Foto: Armand Hough/ANA

Biyela, Khumalo en Maliti is ook elkeen tot sewe jaar tronkstraf gevonnis vir die onwettige besit van ammunisie en vuurwapens.

Mihalik, ʼn prokureur wat vir sommige van Kaapstad se berugste bendelede verskyn het, is die oggend van 30 Oktober 2018 op ʼn kort afstand in die kop geskiet terwyl hy sy kinders by Reddam House, ʼn private skool in Groenpunt, gaan aflaai het.

Mihalik se seun (toe 8) is die betrokke dag in die kakebeen gewond. Hy het sedertdien volkome herstel. Mihalik se dogter (destyds 17) het destyds agter in die motor gesit en is nie beseer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

As hulle ANC’s is sal die departement van korrektiewe dienste hulle verskoon en se “gaan maar huis toe ouens?” “Jacob Zuma wag vir julle”

Cherokee ·

Die politiek in Suid Afrika neuk tot ons sin vir humor op. Ons lag vir dinge wat nie werklik snaaks is nie.

christo ·

Ja, asseblief. Dit moet geld vir al die moordenaars, plaasaanvallers, CIT rowers, die hele spul. Koerante moet weekliks die gesigte publiseer van die gevonnisde misdadigers en ‘n blad vir die wat gesoek word. Toentertyd se SAUK se TV ‘ Police file’ het gehelp om die gesoektes te kry. (Ek dink die regering sal dit teenstaan want daar sal ‘n paar politici s’n wees.)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.