Liggaam onder klaskamer gevind

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: SAPD/Facebook)

Leerders van die M.C. Weiler Primary School in Alexandra, Gauteng, het Vrydag op ’n liggaam onder ’n mobiele klaskamer afgekom.

“Die ontstellende vonds is gedurende pouse tussen 11:00 en 11:30 gemaak toe leerders glo ’n sokkerbal onder die graad 5A-klaskamer wou uithaal,” het Steve Mabonda, woordvoerder vir die Gautengse onderwysdepartement, in ’n verklaring gesê.

Die leerders het hul onderwysers glo dadelik in kennis gestel dat hulle ’n “menslike geraamte” onder dié klaskamer gevind het.

Die polisie is gevolglik na die skool ontbied. Die personeel het ook besluit om leerders 13:00 huis toe te stuur sodat die nodige ondersoek kan plaasvind.

“Polisiebeamptes het die toneel ondersoek en bevestig dat die leerders se vonds wel ’n menslike skelet is. Die oorskot is van die toneel verwyder en die polisie het aangedui dat ’n geregtelike doodsondersoek gedoen sal word.”

Volgens Mabona het die departement sy sielkundig-maatskaplike eenheid na die skool gestuur om berading en ondersteuning aan leerders en personeel te bied.

“Onderrig by die skool sal met dié ondersteuning voortgaan terwyl ons op verdere verslae van die polisie wag,” het Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

domheks ·

Dis darem ‘n lelike ontdekking vir die kinders. Was dit ‘n volwasse se oorskot of ‘n kind se oorskot?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.