Liggaam op Tafelberg aangetref

Die helikopter wat na die berg ontbied is. (Foto: AMS)

Die Wes-Kaapse polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek nadat die liggaam van ʼn man (32) vandeesweek op Tafelberg in Kaapstad gevind is.

Sers. Noloyiso Rwexana, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê stappers het Dinsdagoggend op die man se liggaam naby die Woodstock-grot op die berg afgekom.

Luidens ʼn verklaring van Wildernis-soek-en-redding (WSAR), is ʼn span van WSAR die betrokke dag kort ná 09:00 na die berg ontbied, waar twee paramedici die liggaam van ʼn man aan die oostelike hange van Tafelberg aangetref het.

Luidens die verklaring is die liggaam met behulp van die AMS-helikopterspan van die berg verwyder.

Rwexana het gesê ʼn nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van die man se dood te bevestig.

Die liggaam van ʼn man is ook in Junie op Tafelberg aangetref.

Maroela Media het vroeër berig die liggaam van ʼn man, vermoedelik 60 jaar oud, is op 1 Junie naby die Nursery-ravyn op die berg gevind. ʼn Persoon het die liggaam op die roete opgemerk waarna dit ook met behulp van ʼn helikopter verwyder is.

Besonderhede oor dié man se dood en identiteit is nie in dié stadium bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.