Man se liggaam op Tafelberg-staproete gevind

Foto: @_ArriveAlive/Twitter

Die liggaam van ʼn man, vermoedelik 60 jaar oud, is naby Nursery-ravyn op Tafelberg in Kaapstad gevind.

Johann Marais, woordvoerder van Wildernis-soek-en-redding (WSAR), het gesê die organisasie het Maandagmiddag omstreeks 16:300 ontvang van ʼn persoon wat ʼn liggaam op die roete opgemerk het.

“ʼn Span het die reservaat van Constantianek betree en die grondpad aan die agterkant van Tafelberg gevolg,” het Marais gesê. “Toe hulle die man se liggaam bereik het, is daar bevestig dat die man reeds oorlede is. WSAR het saam met die SAPD bewyse op die toneel ingesamel.”

As gevolg van die ligging van die liggaam en gebrek aan daglig, is die besluit geneem om die liggaam eerder oornag op die berg te los. Die AMS-helikopterspan, in samewerking met die departement van gesondheid, en die span op die grond was om 07:30 reeds gereed, maar hulle moes wag vir die mis om op te klaar en nodige toestemming vir die vlug bekom.

Die helikopter het net ná 09:00 na die toneel vertrek, maar die kort afstand kon nie voltooi word nie, as gevolg van mistige toestande. “Die tydelike landingsone by Newlands-woud is uiteindelik oopgemaak en die liggaam is suksesvol van die toneel verwyder en na die patologiediens geneem.”

Die polisie in Claremont stel ondersoek in, het Marais bygevoeg.

“Dit is betreurenswaardig dat ʼn persoon op die eerste dag wat die berg weer oopgemaak is, gesterf het. Selfs al word sosiale distansiëring vereis, versoek ons dat persone nie alleen in wildernisgebiede sal stap nie.”

Die persoon se identiteit is nog nie bekend gemaak nie.

Die persoon wat die WSAR gekontak het, het klippe hoor val en toe hy ondersoek instel, het hy gesien ʼn persoon het geval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.