Liggaam van vermiste juffrou gevind

Yonela Mahlungulu (Foto: Trinity Zukhanye/Facebook)

Die liggaam van ʼn vermiste juffrou is Saterdag omstreeks 15:00 naby ʼn rivier in Lusikisiki in die Oos-Kaap gevind.

Yonela Mahlungulu (34) het Vrydagoggend skool toe gery, maar toe sy later die middag nie teruggekeer het huis toe nie, het haar man begin ondersoek instel, sê kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie.

Mahlungulu was ʼn onderwyseres aan Sobaba High School.

“Toe haar man uitgevind het dat sy ook nie vir skool opgedaag het nie, het hy haar dadelik as vermis aangemeld by die polisie. Sy het haar selfoon by die huis gelos.”

ʼn Soektog is van stapel gestuur en ʼn spoor is in Bukuveni- informele nedersetting in Flagstaff opgetel. Haar voertuig is met bloedvlekke in die kattebak opgespoor. Die sleutels was nog in die aansitter.

“Die soektog na mev. Mahlungulu het voortgeduur en met behulp van die voertuig se spoortoestel, kon beamptes die voertuig se roete volg. Reddingshond Bond van die honde-eenheid, saam met lede van Mahlungulu se familie en die gemeenskap, het al die plekke deursoek waar die voertuig stilgehou het.”

Bond het haar liggaam omstreeks 15:00 by Mtsila langs ʼn rivier gevind. Sy het skietwonde in haar bolyf opgedoen.

“ʼn Saak van moord word ondersoek. Die motief vir die aanval en die verdagtes is nog nie bekend nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sê maar net ·

Derde onderwyseres in een maand :-(
So tragies en baie hartseer…sterkte aan al die families.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.