Lisensiehouers gemaan om vir afsprake op te daag

(Foto: RTMC)

Nadat lisensiehouers gekla het dat hulle nie toegang tot aanlynbesprekings kon kry om hul bestuurderslisensies te hernu nie, het die Gautengse departement van paaie en vervoer ʼn reeks innoverende maatreëls ingestel om die beskikbaarheid van tydgleuwe te verseker.

Hierdie maatreëls sluit in ʼn poging om proaktief tydgleuwe uit te reik, met die voorkeur aan lisensiehouers wie se bestuurderslisensies vandeesmaand verval.

Die departement sal ook lisensiehouers help deur tydgleuwe beskikbaar te stel sodat diegene van wie lisensiekaarte se geldigheid tot einde Augustus vanjaar verleng is, ook die geleentheid sal kry om dit te hernu.

Daarbenewens beoog die departement om in samewerking met die Gautrein-bestuursagentskap kiosks by verskillende Gautrein-stasies beskikbaar te stel waar lisensiehouers hul lisensies kan gaan hernu.

Deur die Padverkeersbestuurskorporasie word lisensiehouers ook SMS’e gestuur om hulle vroegtydig daarvan bewus te maak dat hul lisensies verval het. Daar word verder ook beskikbare besprekingsgleuwe aan hulle verskaf.

“Ons is egter bekommerd oor die swak bespreking van die beskikbare besprekingsgleuwe. In die eerste twee weke van die nuwe jaar het ons altesaam 17 000 tydgleuwe gebruik om voorsiening te maak vir die 35 000 lisensiehouers wie se lisensies in Januarie vanjaar verval,” het Jacob Mamabolo, LUR vir openbare vervoer en paaie, gesê.

“In Februarie sien ons daarna uit om nog meer kapasiteit by die stelsel toe te voeg. Ons sal mobiele bestuurslisensietoetssentrums instel om te verseker dat burgers nie sukkel om bestuurderslisensies te hernu nie.”

Mamabolo het voorts ʼn waarskuwing gerig aan lisensiehouers wat besprekings maak, maar nie opdaag nie.

“Ons hou rekord van hierdie lisensiehouers wat nie vir hul afsprake opdaag nie. Hierdie neiging is onaanvaarbaar en ons moedig diegene wat tydgleuwe bespreek het aan om daarvan gebruik te maak.”

Die departement het in November aangekondig dat alle leerlinglisensies, rybewyse, tydelike rybewyse en professionele bestuurspermitte wat tussen 26 Maart en 31 Desember verlede jaar verval het, tot 31 Augustus vanjaar geldig sal bly.

Mamabolo moedig ook lisensiehouers aan om hul besonderhede op die eNatis-stelsel op te dateer. Om hul besonderhede op te dateer kan hulle https://online.natis.gov.za/#/ besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pietertjie ·

Die regering innoverend? Our people is innoverend met misdaad, diefstal en bedrog, nie met verbetering en vooruitgang nie. Hulle dekades-lange rekord bewys dit. Hulle kan nie eens bestaande strukture net in stand hou nie, wat nog van “verbeter”?

DieKriek ·

Watter afspraak? Ek sou graag wou weet of iemand een gemaak kon kry.

Genis ·

Ag asseblief… Bel, kom deur en wen n Datsun… Probeer jou eie plek bel ou silm innoverende kader…

AntiMarxistZA ·

So, het uiteindelik ‘n afspraak gekry, daargekom, vorm ingevul, oogtoets is gedoen, foto is geneem. By die betaal toonbank gekom, ontvang ek toe ‘n drukstuk wat 4 “enforcement orders” lys vir boetes van 2019, wat nou saam met die “infringement orders” en “courtesy letters”, waarvan ek nog geen stuk gesien het nie, nou optel tot byna R5000. Hoeveel boetes moet ek kry omdat ek nie my lisensie by my het nie voordat dit duurder gaan wees om nie my bestuurderslisensie te hernu nie?
Ten minste het ek in Desember sonder probleme lisensieskywe vir my karre en sleepwa ontvang toe ek dit hernu het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.