‘Loop lig vir uitgespoelde kreef’, waarsku departement

Kreef spoel uit in Elandsbaai tydens die jaarlikse rooigety. (Foto: Cederberg-munisipaliteit/Facebook)

Die departement van bosbou, visserye en omgewingsake het lede van die publiek gewaarsku om nie seediere te eet wat op die strand uitspoel nie.

Dit kom nadat groot getalle dooie seediere die afgelope tyd op strande aan die Weskus uitgespoel het, weens die jaarlikse rooigety. Diere wat hier uitgespoel het, sluit in garnale, krappe en inkvisse. Die diere is eers in die gebied van die Bergrivier-mond, naby Velddrif opgemerk, meestal in die riviermond. Klein getalle kreef is ook hier aangetref,  by die riviermond asook verder aan die kus.

Volgens die departement kan veral uitgespoelde kreef uiters giftig wees, wat kan lei tot ernstige siekte of selfs die dood indien dit ingeneem word.

Rooigety kom jaarliks voor weens ʼn tekort aan suurstof in die water. Natuurlike alge in die water onttrek suurstof uit die water. Dit kan ook biotoksiene afskei wat skadelik vir baie mariene spesies is. Op soek na meer suurstof beweeg kreef dan na vlakker water, waar hulle gestrand raak wanneer dit laaggety is.

In 2022 het meer as 100 ton kreef op een slag by Elandsbaai uitgespoel.

Peter Mbelengwa, woordvoerder van die departement van bosbou, visserye en omgewingsake, sê die departement tree vinnig op wanneer kreef uitspoel, deur lewendige krewe te hervestig in gebiede met normale suurstofvlakke en dooie krewe weg te gooi. “Wetenskaplikes hou ook die rooigety fyn dop, teken aan watter spesies uitspoel en doen analises om die grootte en geslag van hierdie diere te bepaal.”

Volgens die departement het die grootskaalse uitspoel van kreef reusegevolge vir beide die marine ekosisteem sowel as die plaaslike ekonomie. “Onlangse navorsing deur die departement se skaaldiernavorsingspan het gewys dat die getal krewe aansienlik afgeneem het sedert 2022, toe 550 ton kreef uitgespoel het. Verlede jaar het nog 100 ton kreef tydens rooigety op die strand beland.

Dié afname word veral in Elandsbaai gesien en het tot gevolg dat vissers minder kreef tydens die kreefseisoen vang, wat weer ernstige nagevolge vir vissergemeenskappe aan die Weskus het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Danie ·

Die kreef word minder ja maar almal kyk anderpad terwyl kreef reg deur die jaar in groot getalle gesmokkel word.
Ondermaat krewe, wyfies met eiers, sagte doppe, enigiets wat voorkom word in hul duisende op n dag gesmokkel maar die kreefinspekteurs sien niks want dis hulle pelle wat blykbaar brood op die tafel sit.
10 krewe by Paternoster verkoop maklik vir tussen R600 en R800 en die manne stap rond met sakke vol op n goeie dag.
Wat kos brood dan deesdae?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.