‘Los aanlyn leer, ons wil terug klas toe’

Studente sê as hulle aanlyn wou studeer, sou hulle ʼn ander universiteit gekies het. (Argieffoto: Christa Steyn-Bezuidenhout)

Daar is toenemend teenkanting teen voortgesette aanlyn leer by talle universiteitsdepartemente – terwyl ouers sê hulle betaal ten duurste vir ʼn kampusondervinding vir hul kinders wat steeds net nie gebeur nie.

ʼn Ouer wat op voorwaarde van anonimiteit met Maroela Media gepraat het om sy kinders se identiteit te beskerm, sê hulle is hande in die hare omdat daar geen klinkklare aanduidings is van wanneer kontakonderrig weer ten volle hervat gaan word nie.

“Jy registreer, jy maak seker die studente het blyplek – maar wanneer dit kom by betaal, hoor jy die klasse is steeds aanlyn of gedeeltelik aanlyn,” sê hy.

“Jy betaal vir akkommodasie, want jy weet nie of daar dalk kontakklasse gaan wees nie. Dan sit die studente weer vir ʼn ruk by die huis. Die grootste frustrasie is dat ʼn mens nie weet nie. Niemand sê vir jou wanneer dinge weer normaalweg voortgesit word nie.”

Die situasie wissel oënskynlik tussen universiteite en selfs departemente. Sommige studente het tans steeds net ʼn enkele kontakklas per week, terwyl die res aanlyn bygewoon moet word.

“Jy betaal egter vir ʼn volle universiteitservaring met kontakklasse en sosiale wisselwerking,” sê dié pa.

Studente wat vanjaar vir hul derde jaar van studie aanmeld, het reeds twee Covid-19-pandemiejare op universiteit agter die rug. Dit beteken hulle het tot dusver weinig werklike kontakonderrig op universiteit – en al die ander aktiwiteite wat met kampuslewe verband hou – ondervind.

Musiekstudente by die Universiteit van Pretoria (UP) het onlangs ʼn petisie van stapel gestuur waarin hulle hul kommer te kenne gee dat slegs praktiese modules op kampus aangebied sal word. Die teoretiese modules word nes verlede jaar steeds aanlyn aangebied.

Hulle voer in die petisie aan die studiegeld is nie aangepas nie, hoewel studente tydens die Covid-19-pandemie geen of beperkte toegang tot die universiteit se fasiliteite gehad het. “Dit lyk of die universiteit beoog om hierdie neiging vanjaar met ʼn hibriede stelsel voort te sit.”

Studente sê ook as hulle aanlyn wou studeer, sou hulle ʼn ander universiteit gekies het.

Die groep studente sê aanlyn onderrig ontneem hulle boonop van die ontwikkeling van belangrike vaardighede wat hulle in die werkplek gaan benodig.

Covid-19-regulasies bepaal dat tot 1 000 mense ʼn binnenshuise geleentheid mag bywoon, terwyl tot 2 000 mense buite kan saamkom. Waar venues te klein vir hierdie getalle is, kan tot 50% van die ruimte beset word.

Hulle verstaan dus nie waarom kontakonderrig nie voortgesit kan word nie, aangesien die meeste klasgroepe volgens hulle nie uit soveel studente bestaan nie.

Byeenkomste soos die Varsity-beker gaan boonop voort, ofskoon in die buitelug, met pawiljoene wat gepak sit van studente.

“Al die kroeë en kuierplekke is oop en die kinders kuier. Selfs met die eerstejaars word daar oriëntering gedoen en hulle sit op die pawiljoene en sing. Maar môre mag jy nie teruggaan klas toe nie,” sê die pa met wie Maroela Media gepraat het.

Hy meen ook dat sosiale wisselwerking tussen studente ʼn geweldige groot deel van die leerervaring is.

Hibriede model voortgesit

Die groep studente sê aanlyn onderrig ontneem hulle boonop van die ontwikkeling van belangrike vaardighede wat hulle in die werkplek gaan benodig. (Foto: Clay Banks/Unsplash)

Rikus Delport, woordvoerder van UP, sê die universiteit is vanjaar besig om gaandeweg meer kontakklasse in te stel. “Ongelukkig is die nasionale ramptoestand nog nie opgehef nie en Covid-19 bly ʼn bedreiging. Om dié rede gaan UP voort met hibriede onderrig en leer, met soveel moontlik kontakklasse waar en indien moontlik.”

Omdat universiteite net 50% van venuekapasiteit mag gebruik en sosiale afstand steeds gehandhaaf moet word, kan alle studente nie in klasse onderrig word nie, sê Delport.

Tuks is een van die grootste kontakuniversiteite in die land, met naby 1 000 studente in sommige programme. “Dit maak dit onmoontlik om alle studente in venues te onderrig terwyl daar aan Covid-19-regulasies voldoen word.”

Benewens klasgrootte word faktore soos laboratorium- of praktiese werk ook oorweeg wanneer oor kontakklasse besluit word, sê Delport.

“Dit is belangrik om in gedagte te hou dat onderriggeld die koste van die infrastruktuur dek wat verskaf word vir opleiding en navorsing en dit benodig instandhouding. Die universiteit het en gaan steeds koste aan wat verband hou met aanlyn leer en onderrig. Dit sluit in die aankoop van aanlyn programme en lisensies, skootrekenaars en databondels vir studente,” sê Delport.

“Voorts word onderriggeld gebruik om onder meer die salarisse van akademiese en professionele werkers, wat onophoudelik werk om te verseker die universiteit bied steeds gehalte-onderrig, gedeeltelik te finansier.”

Intussen is al die universiteite se fasiliteite oop en studente is welkom om dit op ʼn verantwoordelike manier te gebruik, sê die universiteit.

Die Noordwes-Universiteit het by navraag gesê alle 2022-studente is teruggenooi kampus toe. “ʼn Voltydse student wat geregistreer is vir alle modules in ʼn program, behoort 40 uur per week met akademiese bedrywighede besig te wees,” sê Louis Jacobs, woordvoerder.

Nes ander instellings moes daar met die uitbreking van die Covid-19-pandemie na “nood- aanlyn leer en onderrig” in kontakprogramme oorgeskakel word en daar is verlede jaar met ʼn meer gemengde model begin.

Dosente by al die universiteitsfakulteite moes terugkeer klas toe en alle fakulteite bied kontakklasse in verskillende vorms. Vanjaar sal daar selfs meer kontakklasse in die een of ander vorm wees en meer regstreekse, persoonlike assesserings gedoen word.

Die universiteit glo ook dat hy in die beste posisie is om studente se voltydse studie te ondersteun wanneer studente op kampus is, of naby. “Omdat ʼn meer holistiese en geïntegreerde akademiese aanbod in kombinasie met ʼn gehalte-studentelewe gebied word, geld volle studiegeld steeds,” sê Jacobs.

Natuurlike behoefte aan kampuslewe

Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, sê dit is glad nie vreemd dat studente ʼn sterk drang na ʼn kampuslewe en ʼn behoefte het om klasse by te woon nie.

“Mense bereik op die ouderdom van naastenby 18 jaar twee ontwikkelingsmylpale: die vorming van hul identiteit en die vestiging van betekenisvolle verhoudings. Dit is normaal en deel van mens-word.”

Hy sê studente benodig nie net vakkundige kennis en vaardighede om ʼn beroep te volg nie, maar dit is ook belangrik dat hul karakter gevorm word.

Visser sê by Akademia gaan klasse volstoom aan, met al die nodige Covid-19-maatreëls wat gevolg word. Die klasgroottes maak dit wel makliker om te voldoen aan al die regulasies. Wanneer die klasse te groot is, word die periodes opgedeel.

“Dit is makliker om te werk aan die vormingskant wanneer studente in aanraking is met dosente.

“Die doel van ouerskap is juis om kinders te lei na volwassenheid, waar hulle selfstandig op hul eie bene kan staan. Hierdie oorgangsfase ná skool, tot en met ʼn werkloopbaan, is die tyd waar die drang na emansipasie op sy grootste is.”

Dit gaan ook veel beter met talle studente noudat hulle weer in ʼn normale gang van studentwees is, sê Visser. “Hulle is sommer weer vol moed en energie.”

Dit is inderdaad so dat talle studente nie op kampus kan wees om te studeer nie, maar in daardie geval kies hulle ʼn aanlyn universiteit. “Die algemene verwagting is: As jy by ʼn [kontak]-universiteit inskryf, gaan jy kontakklasse kry. Ek dink regtig universiteite kan rondom dít werk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.