Lotto-baas kry huis op spoglandgoed met skool se geld

Skrywer:  Raymond Joseph, GroundUp

Pecanwood-gholflandgoed. (Foto: Pecanwood se webtuiste)

Geld vanaf die nasionale lotery wat gebruik moes word om ʼn afgebrande skool in Limpopo te herbou, is toe aangewend om ʼn huis in ʼn duur gholflandgoed vir die uitvoerende hoof van die nasionale loterykommissie (NLK) te koop.

Die huis in die spoglandgoed Pecanwood Estate in Hartbeespoort het R3,6 miljoen gekos en is in 2016 in die Mojakgomo-familietrust se naam geregistreer. Thabang Mampane, tans die uitvoerende hoof van die loterykommissie, en haar familie is begunstigdes van die trust en sy en haar man is trustees.

Die geld vir die huis is deur Upbrand Properties, ʼn privaat maatskappy met nabye bande met die NLK se bedryfshoof, Phillemon Letwaba, en sy familie, gekanaliseer.

Rekords en bankstate wat deur GroundUp verkry is, wys dat die niewinsgewende organisasie Simba Community Development Foundation op 29 Augustus 2016 meer as R25 miljoen vanaf die NLK ontvang het om die Vhafamadi Sekondêre Skool te herbou. Nog R3 miljoen sou later volg.

Thabang Charlotte Mampane (Foto: NLK-foto)

Die skool is die vorige jaar in ʼn brand verwoes wat deur betogers veroorsaak is. Op dieselfde dag het Simba R4 miljoen aan Upbrand Properties oorbetaal, wie se bankbalans in dié stadium net meer as R100 000 bedra het. ʼn Verdere R2 miljoen is aan Ironbridge Traveling Agency oorbetaal, van wie Letwaba se vrou nou ʼn direkteur is. Upbrand het ook meer as R100 000 ontvang vanaf Shandukani Holdings, wat in dié stadium die konstruksiewerk aan die skool behartig het.

Upbrand het toe R3,6 miljoen aan Jacobs Robbertse Attorneys, die prokureur wat die verkoop van die huis aan Mampane hanteer het, oorbetaal. Upbrand het ook ʼn bykomende bedrag van R269 848 oorbetaal om oordragkoste en regsfooie te dek. Die huis is gevolglik op 1 Desember 2016 in die trust se naam geregistreer.

GroundUp het verder onthul dat Simba Community Development Foundation dormant was toe hulle die subsidie vanaf die loterykommissie ontvang het en dat hulle nie aan die departement van maatskaplike ontwikkeling se vereistes as niewinsgewende organisasie voldoen het om te kwalifiseer vir die subsidie nie.

Die voorstel om R28 miljoen aan Simba te betaal om Vhafamadi te herbou is dan ook deur niemand anders as Mampane aan die loteryraad gemaak nie.

In antwoord op GroundUp se skriftelike navraag aan die NLK, het die woordvoerder, Ndivhuho Mafela, gesê die sake wat in hierdie berig aangeraak word, vorm deel van ʼn breër ondersoek deur die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) na sake van die NLK, en dus wil die kommissie nie nou al hierop kommentaar lewer nie.

Mampane self het nie op navrae reageer nie.

Dít is ʼn verkorte weergawe van die berig wat op GroundUp geplaas is. Lees die volledige berig hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Nie Verbaas ·

Weereens net nog n bewys dat ons liewe BEE lede maar net nie hulle hande kan afhou van iets wat nie aan hulle behoort nie en absoluut geen gevoel vir ander het nie. Dit gaan net oor die persoon self. Oor en oor dieselfde storie.

DieKriek ·

Want hulle dade het geen gevolge nie. Hulle koop hulself eenvoudig los as hulle uitgevang word…met ander mense se geld.

Jr ·

Wat kan men’s verder se. Want as ek my hart uitstort sal ek tronk toe gaan. Dis een van die redes hoekom Le Phoofie ons skole wil hê en sissie Sizulu 50 /50

Hans ·

Waarom nie geld spandeer om vir SASSA pensioenarisse ouetehuise op te rig nie?

Yvonne ·

Is daar nerens erns meer n eerlike mens in die ANC nie…dit lyk of hulle dink almal is dom en sal die transaksies nie spoor nie…. . Of daar ooit teen hulle opgetree sal word is n ander vraag

Lourens ·

MM – wanneer gaan julle die verskil tussen “nie-winsgewend” en “nie-winsbejag” leer? Want daar is ‘n groot verskil.

Shakespeare ·

Gee hulle ‘n hoë posisie en ek kan jou verseker dat hulle korrupsie gaan pleeg. Ai tog Afrika !!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.