Louiesenhof-moord: Vrou ook in hegtenis

Die Louiesenhof-wynlandgoed. (Foto: Eunice Stoltz)

ʼn Derde verdagte is in hegtenis geneem in verband met die raaiselagtige moord op Stefan Smit (62) op die Louiesenhof-wynlandgoed buite Stellenbosch verlede jaar.

Kol. Andrè Traut, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê dié verdagte, ʼn vrou, is Maandag omstreeks 07:00 in hegtenis geneem.

Die 54-jarige vrou verskyn na verwagting Dinsdag in die Stellenbosch-landdroshof.

Derek Sait (50) en Steven Damon (56) is Donderdag in die vroeë oggendure reeds in hegtenis geneem nadat die polisie lasbriewe bekom het. Sait en Damon staan onder meer tereg op aanklag van moord, huisroof en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie. Hulle sal na verwagting Donderdag, wanneer hulle weer in die hof verskyn, aansoek doen om borgtog.

Die ondersoek na die 62-jarige Smit se moord het speurders verlede week na die drie verdagtes se huise in onderskeidelik Bellville-Suid, Milnerton en Wynberg gelei. Die vrou het die polisie egter tot Maandag ontduik.

Smit is verlede jaar op 2 Junie skuins voor 19:00 op die wynplaas doodgeskiet toe vier gewapende mans deur ʼn oop deur toegang tot die plaashuis verkry het. Sy vrou, Zurenah, en ʼn vriendin van die gesin was ook tuis, maar het die aanval oorleef.

Zurenah en Smit se twee dogters by sy eerste vrou, Louie en Martine Smit, is intussen in ’n afsonderlike hofstryd in die Kaapstadse hooggeregshof gewikkel. Dit hou verband met Smit se jongste testament, wat sy dogters aanvoer vervals is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hennie J ·

Wat kan mens se, behalwe om dankbaar te wees dat daar tog nog werklik goeie speurders is. Om deur jou lewensmaat geruil te word vir n bord lensiesop sal sekerlik nie ongestraf bly nie.

Niklaas ·

Het ek nou iets gemis hier? Is die oorledene se vrou en die gearresteerde een en dieselfde persoon?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.