Louzanne wen silwer in Tokio

Louzanne Coetzee saam met Estean Badenhorst. Foto: Twitter.

Suid-Afrika se Paralimpiese veldtog in Tokio het nóg ’n medalje-hupstoot te danke aan Louzanne Coetzee se heldedade gekry.

Die 28-jarige atleet het saam met Estean Badenhorst (haar gids) die krane behoorlik op ’n warm dag oopgedraai om die silwer medalje in die 1 500 m vir T11-atlete in te oes.

Haar tyd van 4:40:96 min het ook die Afrika-rekord verbeter.

“Ek kan dit nie glo nie!” het Coetzee agterna gesê. “Ek neem nou al agt jaar lank deel en dít is my eerste medalje. Ek kon nie vir ’n beter wedloop, ’n beter gids of beter voorbereiding gevra het nie; ek is baie dankbaar oor hoe alles afgeloop het.”

Volgens Badenhorst was dit hul plan om vanuit die staanspoor tussen die voorste atlete te wees omdat hulle tydens hul voorbereidingsessies net teen die horlosie kon hardloop.

Die uiteindelike wenner en nuwe wêreldrekordhouer, Mexiko se Monica Rodriguez Saveedra, het ’n rukkie later die voortou geneem, maar Coetzee-hulle kon by haar gebly het. Van die atlete was egter in ’n aggressiewe stryd gewikkel soos wat hulle probeer het om ’n podiumplek los te hardloop.

“Ek weet ek kon vir Estean vertrou, maar daar was baie aksie op die baan soos wat die atlete om plekke baklei het. Dit het beslis tot ’n taaier wedloop as die kwalifiserende ronde gelei, maar Estean het my vooraf gewaarsku dat so iets dalk sal gebeur en ek het hom vertrou.”

Suid-Afrika is tans 28ste op die medaljepunteleer.

  • Nog Suid-Afrikaners in aksie vandag:

08:00: Kgothatso Montjane (rolstoeltennis)

09:00: Phillipa Johnson-Dwyer (perdry)

11:04:  Shaun Anderson (boogskiet)

13:33: Puseletso Mabote (100 m-eindronde)

13:43: Mpumelelo Mhlongo (100 m-eindronde)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anel ·

Baie geluk aan hierdie atlete. Hulle moet soveel harder werk as nie gestremde atlete. Ek dink partykeer het hulle meer deursettingsvermoë as nie gestremdes. En op die oomblik vaar hulle beter as die nie gestremdes. Ek haal my hoed af vir julle en bewonder julle.

Samuel ·

Welgedaan. Ons is trots op jou! Sjoe, dit moes harde werk gewees het.

Dries ·

Ek het so vertrou dat Louzanne goud sou kry. Nogtans baie geluk met die silwer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.