LP’s stem vanmiddag oor geskorste OB

Die geskorste Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Parlementslede besluit Maandagmiddag oor die lot van die geskorste Openbare Beskermer (OB), adv. Busisiwe Mkhwebane.

LP’s sal omstreeks 14:00 in die Kaapstadse stadsaal (waar die parlement tans gehuisves word) begin om die parlement se art. 194-komiteeverslag oor Mkhwebane te oorweeg en te debatteer.

Daar sal daarna gestem word oor die kwessie of die beleërde OB uit haar pos verwyder moet word voor haar termyn van sewe jaar op 14 Oktober verstryk.

Die ondersteuning van tweederdes van LP’s is nodig om Mkhwebane te verwyder: dit beteken 267 LP’s moet ten gunste van die besluit stem.

Die stemming volg nadat die parlement se art. 194-komitee ná ʼn omvattende ondersoek van byna twee jaar bevind het Mkhwebane moet uit haar pos verwyder word op grond van onbevoegdheid en wangedrag soos vasgestel deur die getuienis voor die komitee.

Siviwe Gwarube, DA-hoofsweep, sê die opposisieparty hou al sewe jaar lank vol dat Mkhwebane ten eerste glad nie ʼn geskikte kandidaat was om die amp van OB te beklee nie.

“Vandag is nie net ʼn stemming om vir die eerste keer die hoof van ʼn hoofstuk 9-instelling te verwyder nie, maar ʼn bevestiging van die DA se meedoënlose verbintenis tot die oppergesag van die reg en vir aanspreeklikheid.

“Ná jare van teenstand teen hierdie aanstelling sien ons uit daarna om hierdie onstuimige hoofstuk af te sluit wat ʼn presedent vir die parlement sal skep oor hoe ʼn ongeskikte hoof van ʼn hoofstuk 9-instelling aangekla moet word.”

Gwarube verwys onder meer na sommige van die mees noemenswaardige gevalle waarin Mkhwebane haar pligte die afgelope sewe jaar versuim het. Dit sluit in die poging in 2017 toe Mkhwebane as OB die parlement opdrag gegee het om die Reserwebank te nasionaliseer en ʼn wysiging aan die Grondwet aanbeveel het. Die hooggeregshof het die aanbeveling ter syde gestel.

Mkhwebane se verslag oor Absa is in dieselfde jaar ter syde gestel nadat die Pretoriase hooggeregshof destyds bevind het dat Mkhwebane buite haar magte opgetree, onder eed gelieg en in kwade trou opgetree het.

Mkhwebane se verslag oor die omstrede Estina-suiwelprojek op Vrede in die Vrystaat is in 2019 ook ter syde gestel.

Maroela Media het vroeër berig die art. 194-komitee is op 16 Maart 2021 op die been gebring om ʼn grondwetlike ondersoek te doen na Mkhwebane se geskiktheid om die amp te beklee.

Die getuienis van tientalle getuies is tydens die ondersoek aangehoor oor die ondersoeke wat Mkhwebane in haar tyd as OB gedoen het, verslae wat op hersiening geneem is en die kultuur in die kantoor van die OB.

Daar is in die proses ook miljoene rande vir Mkhwebane se regsverteenwoordiging tydens die verhoor opgedok.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Karoo ·

En hoeveel geld gaan dit vir ons as belasting betaaler kos as sy vroer gaan? Verdomp, sy kan weer by die huis gaan sit tot Oktober, dan kan sy niks moetswilig en onverantwoordelik aanvang nie en ons spaar geld.!!!

Stofdonkie ·

Werf die anc nou stemme vir volgende jaar se verkiesing? Hierdie saak draai al vir amper haar hele termyn. Sy word dus uiteindelik nie geskors nie, maar haar termyn verstryk net. Sy het dus gewen deur haar termyn te kon voltooi. Soos alle sulke sake word dit so lank uitgerek dat dit uiteindelik nie meer saakmaak nie. zuma het maar dieselfde manier, teen die tyd dat hy verhoor word gaan hy so oud wees dat hulle gaan sê hy is te oud vir sy tronkstraf en dan gaan tree hy gemaklik af met al die miljoene wat hy en sy maatjies geboef het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.