Luister: TV-huisvrou maak hart oop

Talana Vuren-Kuhn. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Terwyl die vure van dwelm- en alkoholmisbruik, gesinsgeweld en depressie rondom haar gewoed het, het Talana Vuren-Kuhn besef dat hoewel haar stukkie goud in die hitte van vorm kan verander, dit nimmer as te nooit sal smelt nie.

Talana is een van die ses vroue wat hul verskyning op die kassie gemaak het in kykNET se werklikheidsreeks Die Real Housewives van Pretoria. Dié program het die ganse land aan die gons gehad met hare en naels wat deur die loop van die program omtrent gewaai het.

Weens ʼn hartprobleem en ʼn moeilike swangerskap moes Talana noodgedwonge meeste van die aktiwiteite van die program misloop – iets waaroor sy vandag allermins spyt is.

“Alles in die lewe gebeur soos wat dit moet. Die Here het my op hierdie reis gesit vir ʼn rede, ʼn mens hoef nie altyd te weet wat daardie rede is nie,” het Talana aan Maroela Media vertel.

“Die enigste ding waaroor ek ʼn bietjie hartseer is, is dat ek nie die geleentheid kon kry om dieper in elke vrou se hart te kon gaan delf nie. Ek het te min tyd saam met hulle gehad.”

Ten spyte daarvan dat sy in die loop van die program al hoe minder verskyn het, beskou sy steeds die geleentheid om daarvan deel te kon wees as ʼn voorreg.

Dit was egter belangriker vir haar om na haarself en haar swangerskap in dié tyd om te sien.

“Ek herdenk vandag ʼn jaar met my harttoestand. Dit is wat dinge moeilik in my swangerskap gemaak het.”

Dié toestand het talle bloeddruk- en ander gesondheidsprobleme teweeggebring en op 30 weke moes Talana inderhaas ongevalle toe geneem word weens onverwagse bloeding.

Vir twee jaar het Talana en haar man, Walter, gebid vir ʼn tweede babatjie. Hierdie gebede het nie opgehou toe sy uiteindelik swanger geword het nie.

Talana Vuren-Kuhn saam met haar man, Walter, en twee dogters Olivia en Mia. (Foto: Talana Vuren-Kuhn/Facebook)

Haar harttoestand is een wat sy met haar oupa deel, vertel sy. Sy onthou die dag goed waarop sy vir ʼn laparoskopie sou gaan vir haar fertiliteitskwessies. Dit is dieselfde dag waarop sy langs haar oupa se sterfbed gestaan het.

Sy het daardie dag besluit om nie vir die prosedure te gaan nie, wat beteken het sy het ook nie in daardie stadium besef dat sy toe reeds swanger was nie.

Om nou ma te wees van twee dogters het Talana net weer opnuut laat besef dat iemand se emosionele welstand nooit ignoreer moet word nie. Dit is immers haar eie welstand tydens haar stormagtige grootwordjare wat haar in die arms van wêreldse versoekings gestuur het.

Op 16 het sy besluit dat dit tyd is om haar eie potjie te begin krap. Sy het in die wrede kloue van dwelm- en alkoholmisbruik verstrengel geraak.

“Ek het nie my waarde geken nie. Ek was dit nie geleer as ʼn jong meisie nie. Ek het nie geleer hoe om lief te wees vir myself nie. Ek het in die grootmenswêreld in gehardloop om te ontsnap,” vertel sy.

“Ek het by ʼn donker put in gehardloop. Dis asof jy op hierdie tropiese eiland beland, weg van die storms, jy eet al hierdie vrugte – maar dit is nie die vrug van die Gees nie.”

  • Luister boaan die berig na die volledige onderhoud met Talana Vuren-Kuhn oor haar stormagtige verhouding met alkohol en dwelms, ma-wees en haar betrokkenheid by The Real Housewives van Pretoria.

Wen!

Jy staan ’n kans om een van vyf eksemplare van Talana Vuren-Kuhn se selfhelpjoernaal, 28 Dae na selfliefde, te wen.

Vul die vorm hieronder in om aan die kompetisie deel te neem.

Die kompetisie het gesluit.

Bepalings en voorwaardes

  • Die sluitingsdatum is Donderdag 3 Februarie 2023 om middernag en die wenner sal Maandag 6 Februarie aangekondig word.
  • ʼn Wenner sal lukraak gekies word.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Die trekking sal direk ná die sluitingsdatum plaasvind, waarna Maroela Media per e-pos en telefonies met die wenner in verbinding sal tree.
  • Sodra die wenner gereageer het, sal die persoon se naam op Maroela Media bekendgemaak word.
  • Die prys(e) kan nie vir kontant omgeruil word nie.
  • Maroela Media kan nie aanspreeklikheid aanvaar as die pakkie beskadig word tydens aflewering nie.
  • Die prys sluit een eksemplaar van Talana Vuren-Kuhn se selfhelpjoernaal in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.