Luister: ‘Vrees moenie drome keer’, sê nuwe Mnr. SA

Tiaan Massyn is Mnr. Suid-Afrika 2023. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

Tiaan Massyn, ʼn optometris, sanger én die nuwe Mnr. Suid-Afrika, se grootste vrees is om eendag terug te kyk en spyt te wees oor die kanse wat hy nooit gewaag het nie.

Daarom het hy besluit om uiteindelik vanjaar sy naam in die hoed vir dié gesogte kompetisie se titel te gooi.

“Dit is iets wat ek nog altyd wou gedoen het, en die tyd het nou reg gevoel. Ek het iets om te sê en ʼn verskil om te maak, toe gryp ek die geleentheid aan,” vertel die 30-jarige in Maroela Media se ateljee.

Die ywerige Centurion-sakeman het aandele in oogkundige praktyke in Gauteng en die Wes-Kaap en jaag boonop tussendeur ʼn sangloopbaan na. Sy jongste enkelsnit, “Die son kom op”, is vroeër vanjaar uitgereik en is selfs vir ʼn Aitsa Afrikaanse-musiektoekenning benoem.

Dit was by dié einste toekenningsgeleentheid wat hy weer met die huidige Mej. SA, Natasha Joubert – wat nes hy by Hoërskool Eldoraigne gematrikuleer het – herenig is.

“Sy was ʼn standerdsessie toe ek in matriek was en ek is steeds vriende met die gesin. Hulle is selfs pasiënte by my een praktyk. Ek is vreeslik trots op haar en alles wat sy bemagtig het.”

Tiaan vertel verder dat die Mnr. SA-kompetisie hom buite sy gemaksone gedwing. Hy sê die kompetisie het ook ʼn sterk fokus op liefdadigheidswerk en die uitdunrondtes duur heelwat langer as Mej. SA.

“Natuurlik verg elkeen van die kompetisies baie, baie harde werk en het dit sy eie stel uitdagings, maar ek het daardeur soveel oor myself en my land geleer. Ek is beslis nie nou die man wat ek sewe maande terug was toe ek met hierdie reis begin het nie.”

Die nuwe Mnr. SA is ook van mening dat vrees iets is wat mens té maklik, en dikwels onbewus, inperk.

Tiaan het in Maroela Media se ateljee kom kuier. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

“Ons is so bang en bekommerd oor wat mense van ons dink en sê, en ek dink dit veroorsaak dikwels dat ons nie ons volle potensiaal bereik nie. Ek het met toe oë en heelwat senuweeagtigheid myself gedwing om aan Mnr. SA deel te neem, maar ek glo ons kan nie toelaat dat vrees tussen onsself en ons drome staan nie.”

Tiaan beskou sy nuwe titel as ʼn groot verantwoordelikheid en wil graag die kollig op geestesgesondheid onder mans plaas. Hy wil ook in optometrie ʼn verskil maak en die welsynswerk wat hy reeds rakende beter toegang tot goeie oogsorg doen, verder uitbrei.

“Ek is ʼn regte ‘mensemens’ en glo dat baie probleme opgelos kan word as gemeenskappe, en veral mans, bereid is om eerlik en deeglik te kommunikeer. Ek wil ook my bes doen om ʼn positiewe voorbeeld van ʼn Suid-Afrikaanse man te probeer uitstraal.”

Natuurlik wonder baie vroue miskien nou ook oor dié lang, blou-oog sakeman se verhoudingstatus.

“Hmmm, nee wat. Hulle sal maar vir nou moet aanhou wonder,” terg hy.

  • Luister na die volledige onderhoud boaan die berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ronél ·

Mooi, intelligent en ‘n ware MAN……….mag jy ‘n groot verskil maak op alle gebied.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.