Lus vir hoendernekke en -pote? Kry dit nou in blikkies

Danksy Eiren Drake is die gewilde Suid-Afrikaanse gereg nou in blikkies beskikbaar. (Foto: Shoprite)

Dit is dalk nou nie ʼn happie wat in almal se smaak val nie, maar vir diegene met ʼn voorliefde vir hoenderpote en -nekke, is daar goeie nuus: Dit is nou in geblikte vorm by Shoprite-winkels landwyd beskikbaar.

Tin Stuf, ʼn inmaakmaatskappy in Limpopo, is die eksklusiewe verskaffer van dié ingelegde produk.

Die onderneming is die geesteskind van Eiren Drake en sy oorlede oupa, Spencer, wat in 2017 begin het met die bouwerk aan die aanleg in Tzaneen. Dit is in 2020, te midde van die Covid-19-pandemie, bekend gestel.

Hul vlagskipprojek, ʼn 400 g-blikkie hoenderpote en -nekke, is in die dieselfde jaar bekend gestel.

Drake sê die plan om dié hoendersnitte in te maak, spruit uit sy grootwordjare in landelike Limpopo.

“As ʼn jong seuntjie het ek baie tyd saam met my oorlede oupa se werkers deurgebring. Hulle kinders was my vriende en speelmaats. Ek is destyds aan die gewilde gereg van hoenderpote bekend gestel en dit het vinnig een van my gunstelingdisse geword – en dit is vandag steeds,” sê hy.

Die 26-jarige entrepreneur sê hy het heelwat geleer oor gewilde kosdisse en kulture, maar hy het ook bewus geword van hoe moeilik dit vir talle mense is om gehalteproteïen in die hande te kry.

Die 26-jarige entrepreneur sê hy het heelwat geleer oor gewilde kosdisse en kulture, maar hy het ook bewus geword van hoe moeilik dit vir talle mense is om gehalteproteïen in die hande te kry. (Foto: TIN STUF/Facebook)

Die maatskappy se oplossing was om hoendernekke en -pote – ook genoem walkie talkies – en een van Suid-Afrika se gewildste straatkosdisse, in te lê.

In hierdie stadium het die maatskappy 35 werkers per skof, maar dit kan na tot soveel as 60 verhoog word, mits die vraag na die produk verhoog.

Onder die werkers by die aanleg is verskeie vriende wat Drake as jong kind aan die gereg bekend gestel het. “Hulle is die mense agter ons innovasie om ʼn nuwe produkkonsep te ontwikkel en die inspirasie om deur te druk met ons poging om dit bekend te stel,” sê hy.

Oupa Spencer Drake is in November 2020 dood, ʼn reuseslag vir Drake wat hom as nie net sy sakevennoot en belegger bestempel nie, maar ook as sy lewensafrigter, mentor en bowenal sy geliefde oupa.

Die Shoprite-groep het Drake genader vir ʼn drie jaar lange kontrak om sy produk eksklusief aan die kleinhandelaar te verskaf. (Foto: TIN STUF/Facebook)

In Februarie vanjaar het Drake se lot opnuut ten goede verander nadat die Shoprite-groep hom genader het vir ʼn drie jaar lange kontrak om sy produk eksklusief aan die kleinhandelaar te verskaf.

“As ʼn kleinsake-eienaar en in my heel eerste betrokkenheid by formele kleinhandel in die korporatiewe ruimte, was dit ʼn absolute eer en groot voorreg om onder die leiding van die Shoprite-span te werk,” sê Drake.

“Hulle het nie net ʼn beduidende uitwerking op die toekoms van ons klein sakeonderneming nie, maar Shoprite het ook die toekoms geword waarop die voortbestaan van ons onderneming nou gegrond is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Naomi ·

Wow my gunsteling kan nie wag….hoef nou nie meer my mede kollegas te pla en bedel nie ….

KatjieDeKat ·

Nee dankie. Daar is die hele res vd hoender om te eet. Plus eiers ook nog. Smaak verskil, ek weet, ek weet, maar hou maar verby met hierdie grieselgoed. Ek onthou nou skielik, as kind wanneer my pa n hoender geslag het, het ek graag met die afgekapte pote gespeel.

piet ·

So dis R20 vir 400g en dus R50 per kilogram,. Dis vrek duur vir ‘n spulletjie gebeentes. Dan koop ek maar eerder ‘n pak braaihoender met baie vleis aan. Ek dink ek het al die los pote ook gesien by Shoprite, dis so R30.00 ‘n kilo as ek dit nie mis het nie. Ook nou nie juis goedkoop nie. Ek sal ook liewer hoenderlewertjies eet.

SwartBees ·

Sover ek weet is walkie talkies die KOP en pote van die hoender….of is ek verkeerd.

Wanneer word dit versprei na meer winkels toe, ek stil beslis belang.

Nommer 7 ·

U is reg. Winkels in sekere areas verkoop pote en koppe in 5kg pakke @ R60.

piet ·

Een van die dae word die vere ook seker geeet. ‘n Hoenderveer soppie. LOL

Vrijburger ·

Mmmm heerlike gekerriede hoenderpote met pap! Of hoenderpensies in tamatiesmoorsel.

Antoinette ·

Heerlike geregte. Glo jou besigheid gaan geseend wees.
Ek koop gereeld hoender nekkies, en maak dit so peri-peri geur. Heerlik met vars brood.
Hoender pote koop ek en maak dit vir die papegaaie gaar. Hul smul daar aan.

Swerwer ·

In die geval is vegetaries beslis die oplossing. Volgende is seker ingelegde/geblikte wurms.

Papsak ·

Nee dankie so honger was ek nog nooit nie geniet dit maar wat dit like hou verby !!!!!!!!!

piet ·

Ek het al baie hoendernekkies en hartjies geeet, dis nie ongewoon nie. Egter nog nie by die kop en pote uitgekom nie.

AH ·

Dit val nie in almal se smaak nie, maar ek hou baie van hoendernekkie kerrie. Hoenderpote is ook baie lekker as dit reg gaargemaak is. Almal wat so gril daarvoor omdat hulle wonder waar die hoenders oral geskrop het, onthou dat die hele vel van die pootjie, naels en al afgetrek word voordat dit gaargemaak word. Gelukkig verskil smaak, maar ek eet dit baie eerder as wat ek mopaniewurms of krieke of enige ander insekte eet.

Adri ·

Walkie talkie is hoenderpote en hoenderkoppe, nie nekke nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.