‘Lyk’ op afgeleë strand gewaar tydens pretvlug

Foto: Reghard Roets/Facebook

Die vlieënier van ʼn mikrovliegtuig het danksy ʼn belofte om ʼn vriend op ʼn pretvlug te vat, heel moontlik ʼn man wat bewusteloos op ʼn afgeleë strand gelê het se lewe gered.

Die vlieënier, Reghard Roets, het Donderdag saam met ʼn vriend van Ballito na die Amatikulu-area gevlieg toe hulle op pad terug ʼn man op ʼn afgeleë strand sien lê het.

Daar was nie ʼn veilige plek om te land nie en Roets het die GPS-koördinate aan sy vrou gestuur en sy het hulp ontbied.

Bernard Minnie, die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se bevelvoerder in Richardsbaai, het gesê die polisie is teen 10:22 van die situasie ingelig waarna daar onmiddellik met ʼn soek- en reddingsoperasie begin is.

Daar is vasgestel dat die man op ʼn strand noord van die Tugelamond gewaar is. Dit het soek- en reddingswerkers egter lank gevat om by die man uit te kom weens die onbegaanbare terrein.

“By hul aankoms op die toneel het hulle gesien die man leef nog. Paramedici het die ernstig beseerde man onmiddellik vir verdrinkingsimptome begin behandel.”

Paramedici van IPSS Medical Rescue het ook opgedaag en met die behandeling van die man gehelp. Volgens Minnie het die polisie teen 21:00 die hulp van die NSRI versoek om die man van die toneel te verwyder.

NSRI-reddingswerkers het omstreeks 22:00 op die toneel aangekom. Die man is op ʼn draagbaar gelaai waarna daar sowat 5 km gestap is om ʼn ambulans te bereik.

Die man is in ernstige maar stabiele toestand deur IPSS Medical Rescue se ambulans na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere behandeling.

Volgens Minnie is die reddingsoperasie Vrydagoggend teen 01:46 voltooi. “Dit is nog nie duidelik hoe die man op die strand beland het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.