Ma, dogter se liggame dae uitmekaar gevind

Susanna “Soekie” Rademeyer en haar dogter, Melissa Jacobs. (Foto: Facebook)

Die liggaam van ’n ma (59) van Vishoek in die Wes-Kaap is Woensdag op die rotse by Chapmanspiek gevind enkele dae nadat haar volwasse dogter se liggaam op ’n strand, nie ver daarvandaan nie, uitgespoel het.

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, sê Susanna “Soekie” Rademeyer se liggaam is Woensdag omstreeks 10:23 op die rotse gevind.

Die owerhede, waaronder die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het sowat twee dae lank na Rademeyer gesoek nadat haar 26-jarige dogter, Melissa Jacobs, se liggaam Maandag by die Noordhoek-strand uitgespoel het.

Dié strand is enkele kilometers van Chapmanspiek geleë.

Van Wyk sê ma én dogter se bure het hulle Maandag as vermis aangemeld.

Rademeyer en Jacobs is Vrydag vir die laaste keer gesien toe hulle saam met hul hond, ’n yorkshireterriër genaamd Shauna, in ’n taxi in Vishoek geklim het.

Die hond is Woensdag lewend in die omgewing van Rademeyer se liggaam gevind waar sy vermoedelik sedert Vrydag by haar eienaar se besittings gewag het.

AO Jeremy Marten, ondersoekbeampte, het aan Maroela Media gesê die oorledene se besittings én die as van geliefdes is op die toneel gevind.

Marten sê die hond, wat sedertdien in die sorg van familie geplaas is, is vernoem na die oorledenes se seun en broer, Shaun Jacobs, wat jare gelede oorlede is.

Volgens Van Wyk sal nadoodse ondersoeke nou gedoen word om die oorsaak van die ma en dogter se dood te bepaal.

Geregtelike doodsondersoeke word gedoen.

Enigiemand met inligting rakende die sterftes word versoek om sers. Dawid Steenkamp by 082 841 0789 of Stop Misdaad by 08600 10111 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Mariana ·

Daar is iets meer agter die storie. Niemand sal weet wat regtig gebeur het nie, klink of hulle dit dalk kon beplan het om die as te gaan strooi, wie weet. Klink na hartseer storie.

Francois ·

Die as maak die storie meer ingewikkeld mens kannie net die taxi beskuldig nie

Patch ·

So is jy ook nie eers in jou EIE kar veilig nie. Hoe dan gemaak, nooit weer uit jou huis gaan nie? O ja, en by jou huis is jou veiligheid ook nie gewaarborg nie…

Patch ·

Meeste kommentaar gaan oor die veiligheid van taxi’s/ubers. Hierdie dames het miskien gaan swem en is in ‘n seestroom meegesleur of deur branders van rotse afgeruk. Hoekom altyd die ergste verwag? Niemand weet wat gebeur het nie.

Sarel ·

Aijai…wat sou tog gebeur het..kon die See dalk altwee geneem het??

Tino ·

Klink asof hulle as wou strooi en toe val een of beide en die ander in ‘n poging na redding

Mariaan ·

Klink ook vir my of hul as wou gaan strooi en iets lelik skeef geloop het…in ons land is niks onmoontlik nie..dis hoekom mense dadelik die ergste verwag…want dis die tipe goed wat BAIE ons land gebeur…

Truth2bfree ·

Sekerlik ‘n fratsgolf wat gebreek het oor die rotse …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.