Tania Mandinda Dube (40), die ma wat Woensdag in Limpopo in hegtenis geneem is in verband met die moord op haar tweejarige seuntjie, het Donderdag in die hof verskyn.
Konst. Mienkie Ramakgoakgoa, polisiewoordvoerder, het gesê die saak is tot 3 Oktober uitgestel vir verdere ondersoek. Die ma bly in aanhouding tot dan. Sy staan tereg op aanklag van moord.
Maroela Media het vroeër berig Dube is Woensdag in die vroeë oggendure in die Lwamondo-nedersetting in Vuwani in hegtenis geneem.
“Die ma het na bewering saam met haar drie kinders in haar kamer geslaap. ʼn Familielid het omstreeks 02:00 wakker geword nadat sy bloedstollende gille gehoor het. Sy het gaan ondersoek instel en op die vrou afgekom waar sy by die ingang van die huis langs haar kind se liggaam gesit het,” het die polisie gesê.
Die polisie is ontbied en het spoedig gereageer. “Die polisie het met ʼn voorlopige ondersoek begin wat tot die ma se inhegtenisneming gelei het.”
Die motief vir die moord is nie bekend nie en word ondersoek. Die oorsaak van die kind se dood is ook nog nie bekend nie. ʼn Nadoodse ondersoek sal gedoen word om dit vas te stel.
Ons land, onder andere hierdie area van Vuvani wat so gereeld vir chaos in die nuus is, begin nou al soos van die ergste dele van Afrika word.