Ma wat 4 kinders glo vermoor vra borgtog

Zinhle Maditla in die Witbank-landdroshof (Foto: Balise Mabona/ANA)

Die Witbank-landdroshof het Donderdag gehoor dat die vrou wat daarvan beskuldig word dat sy haar vier kinders vergiftig het, nie op borgtog vrygelaat moet word nie omdat sy kan probeer om haar eie lewe te neem.

Zinhle Maditla het gister weer in die hof aansoek om borgtog gedoen waar sy tereg staan vir die moord op haar kinders in Klarinet in Mpumalanga in Desember verlede jaar.

Konst. Zinhle Mathenjwa, die ondersoekbeampte, het gesê Maditla het aan die polisie erken dat sy op 27 Desember verlede jaar haar kinders vermoor het deur hulle kos te gee waarin sy gif gemeng het. Mathenjwa het getuig twee van die vier kinders het glo gekla oor maagkrampe en hoofpyn kort voordat hulle dood is.

Sy het aan die hof gesê die 24-jarige Maditla het die kinders ná die ete op ʼn bed in haar kamer wat sy gehuur het met ʼn kombers toegemaak en in dieselfde kamer geslaap. “Die beskuldigde het ook probeer om haar eie lewe te neem deur van die kos met die gif te eet. Sy het die volgende oggend ontdek die kinders is dood,” het Mathenjwa gesê.

Sy het verder getuig Maditla het erken sy het die kamer gesluit met haar kinders se liggame daarin en het saam met haar vriendin uitgegaan. Mathenjwa het gesê toe Maditla teruggekom het, het sy vir twee dae in die kamer gebly.

Volgens die ondersoekbeampte het Maditla glo rusie gemaak met haar voormalige kêrel kort voordat sy na bewering haar kinders vergiftig het. ʼn Toksikologieverslag het bevestig die kinders is dood aan vergiftiging.

Die staat het Maditla se borgtogaansoek teengestaan. “As die hof die beskuldigde op borgtog vrylaat, kan sy probeer om haarself dood te maak, want sy het reeds voorheen probeer om selfmoord te pleeg,” het Mathenjwa gesê.

Maditla het in ʼn verklaring wat aan die hof voorgelees is gesê haar voortgesette aanhouding is nadelig vir haar voorbereiding vir haar verhoor.

Maroela Media het vroeër berig Maditla is op 30 Desember verlede jaar in hegtenis geneem toe sy haarself by die Vosman-polisiestasie gaan oorgee het. Dit was kort nadat die ontbinde lyke van haar vier kinders – twee dogtertjies (4 en 8 jaar oud) en twee seuntjies (7 jaar en 11 maande oud) – in haar kamer gevind is.

Sy staan tereg op vier aanklagte van moord met voorbedagte rade.

Landdros Mdumiseni Mavuso het die saak tot 5 Junie uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Stukkend ·

Vier kinders op 24. Vaders afwesig. Onstabiele mense wat kinders het as hulle nog self kinders is en dan knak.

Hansie ·

Sy wil seker verder sorg kom eis vir die kinders(SASSA) Dis mos die norm, kry kinders om kindersorg te eis sodat die ma geld het om te rinkink en die kinders aleen by die huis los. Ons lees dit daagliks

Stukkend ·

62% van geregistreerde geboortes in SA in 2017, bevat GEEN INLIGTING oor die vaders nie. Die staat word die ‘pa’ gemaak vanweë hierdie onvolhoubare toelaag- sisisteem. Dit gaan nie net ‘n finansiële krisis word nie, dit gaan geweldige morele en etiese invloed op die waardestelsels van ons samelewing hê. Kinders word die kommoditeit vir die onderhandeling vir finansiële vergoeding vanaf die staat. Beide partye gaan dit berou.

GM ·

Gee haar borgtog laat sy doen wat sy moet doen. Haar kinders het nie so ‘n wrede dood verdien nie. Hoekom moet die kinders altyd vermoor word as die ma/meisie en pa/kêrel woorde gehad het? Pateties.

Pensioenaris ·

GM stem saam met jou gee haar borgtog dat sy doen wat sy verdien, dan hoef ons nie verder vir haar te sorg nie.

ES ·

Geen bortgtog vir haar nie. Sy het haar eie weerlose kinders vermoor! Sy het geen gewete nie en sy toon geen berou nie. Sy verdien geen simpatie of versagting van die hof nie.

yolandi ·

hoe siek kan sy wees, sluit haar toe in n padded room vir die res van haar lewe dat sy kan ly soos haar kindertjies gely het

Opinie verskil ·

Gee vir haar borgtog, maar laat weet die gemeenskap van haar doene en late, hulle sal sorg dat sy kry wat sy verdien. Tronkstraf is luuks, jy kry kos, kan studeer as jy regtig wil, en na ‘n paar jaar kan jy terug keer na die samelewing toe. Sulke mense verdien nie die luuksheid nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.