Maatskaplike toelae: Só sê politieke partye

Sassa-begunstigdes staan in ‘n ry en wag vir hul betalings by ‘n Poskantoor (Foto: Itumeleng English/African News Agency/ANA)

In aanloop tot die komende algemene verkiesing wou GroundUp by van die grootste politieke partye weet wat hulle standpunt oor maatskaplike toelae is.

Vrae is aan die ANC, DA, EFF, IVP, VF Plus, ActionSA, Patriotic Alliance (PA), MK-party en RISE Mzansi gestuur en terugvoer is van vyf partye ontvang. Die ANC, EFF, IVP en MK-party het egter ná langer as twee weke nog nie op GroundUp se vrae gereageer nie.

Politieke partye wat wel deelgeneem het, se menings oor bestaande maatskaplike toelae lyk soos volg:

Wat is jou party se standpunt oor die basiese inkomstetoelaag? Indien jy dit steun, hoe sal jy dit finansier?

DA: Die DA steun die basiese inkomstetoelaag in beginsel. Sodra ons aan bewind is, sal ons bepaal of ʼn basiese inkomstewaarborg, gekoppel aan ekonomiese groei, bekostigbaar en lewensvatbaar is.

VF Plus: Die VF Plus het begrip vir die huidige behoefte aan so ʼn toelaag en is nie gekant teen ʼn basiese inkomstetoelaag nie. Suid-Afrika kan dit egter nie bekostig nie en dit is dus onvolhoubaar. ’n Basiese inkomstetoelaag sal nie die armoede- en werkloosheidsprobleem volhoubaar oplos nie.

Om armoede uit te roei het ons ekonomiese groei en ’n bevorderlike omgewing nodig waar die private sektor werksgeleenthede kan skep. Suid-Afrikaners se afhanklikheid van maatskaplike toelae is nie volhoubaar nie.

Suid-Afrikaners wat oud genoeg is om te werk, moet eerder in staat gestel word om werk te soek. Dit kan bereik word deur ’n koopbewysstelsel vir werksoekers in te stel wat die koste verbonde aan werksaansoeke en onderhoude dek. Dit sluit vervoer-, telefoon- en internetkoste in.

ActionSA: ActionSA het hom daartoe verbind om ʼn universele basiese inkomstestimulus (Ubis, of Universal Basic Income Stimulus) in te stel om armoede te verlig en burgers se deelname aan die ekonomie te ondersteun. Dit sal gefinansier word deur die begroting te herprioritiseer en korrupsie uit te roei.

Die Ubis, wat aan die gemiddelde armoededrempel gekoppel is, sal aanvanklik vir ’n tydperk van drie jaar deur maandelikse kontantoorbetalings betaal word: R790 per maand in die eerste jaar, R1 101 in die tweede jaar en R1 622 in die derde jaar.

PA: Ons gevoel is dat mense dié toelae verpes, maar dit aanvaar omdat hulle nie juis ander opsies het nie. Wat mense eintlik wil hê, is die kans om entrepreneurs te wees; om werk te hê en om hul eie geld te verdien.

In ’n era waar masjiene toenemend oorneem, sal die betaling van een of ander universele inkomste egter onafwendbaar word.

Die Suid-Afrikaanse regering het klaaglik misluk om die ekonomie te laat groei. Die latente potensiaal van ons ekonomie behoort die ekonomie jaarliks met 8% te laat groei, pleks van die minder as 1% waaraan ons nou gewoond is. Sodra ons dít bereik, kan die ekonomie binne ’n dekade verdubbel.

Dit sal meer finansiering danksy ’n verbeterde belastingbasis beteken, asook meer ondernemings en werkgeleenthede.

Om ’n universele toelaag te finansier, het ons ’n soewereine welvaartfonds nodig, gesteun deur nywerhede wat afhanklik is van die minerale rykdom waarin elke Suid-Afrikaner ’n aandeel deur geboortereg het.

RISE Mzansi: Ons glo nie ’n basiese inkomstetoelaag is goed genoeg nie. Ons verkies omvattende maatskaplike ondersteuning wat die spesifieke behoeftes van werklose en onderbediende Suid-Afrikaners teiken. ’n Basiese inkomstetoelaag sal Suid-Afrikaners nie help om die sosio-ekonomiese uitdagings wat hulle in die gesig staar, te oorkom nie. Ons manifes stel eerder geteikende ondersteuning vir burgers voor wat hul werklike uitdagings hanteer, soos kosbewyse vir huishoudings wat hongersnood ervaar, maatskaplike ondersteuning vir enkelmoeders, ondersteuning vir werksoekers, toegang tot vaardigheidsopleiding en bekostigbare openbare vervoer.

Sou jy die maatskaplike noodverligtingstoelae (SRD-toelae) verleng wat tydens die Covid-epidemie toegestaan is? Indien ja, vir hoe lank?

DA: Die DA sal die SRD-toelae in ’n werksoekerstoelaag omskep. Dit sal van ontvangers vereis om aktief werk te soek en bewyse daarvan aan die departement van maatskaplike ontwikkeling te verskaf.

Die voortsetting van die toewysing sal slegs lewensvatbaar wees as daar ekonomiese groei en voldoende belastinginkomste is om dit te finansier. Die DA is teen enige belastingverhogings om hierdie uitgawes te finansier en sal besparings- en bestedingsdoeltreffendheid in die staatsdienssektor identifiseer om hierdie uitgawes te akkommodeer.

VF Plus: Nee. Ouderdom-, ongeskiktheid- en kindersorgtoelae moet eerder verhoog word. Ander Suid-Afrikaners moet in staat gestel word om werk te soek en finansieel onafhanklik te word.

ActionSA: ActionSA ondersteun maatskaplike toelae om die mees kwesbares in ons samelewing te beskerm en sal dus die skamele R350 SRD-toekenning deur ons voorgestelde Ubis-program vervang.

PA: Die ANC-regering het hierdie toelae aan mense begin betaal om hulle teen die impak van die ANC se strawwe inperking (een van die strengstes ter wêreld in ʼn land wat dit nie kan bekostig nie) te beskerm. Ons betaal vandag steeds die prys vir die ekonomiese skade wat die ANC-regering tydens die Covid-19-pandemie aangerig het. Verder moet die ANC-regering hierdie piepklein toelae nou aan mense betaal om hulle om te koop om ander pad te kyk ná jare se verwoesting van die ekonomie deur die ANC.

Ons glo wat mense werklik begeer, is waardigheid deur indiensneming en ’n ekonomie wat vir die meeste mense werk. Ons wil mense aan die werk sit om die land te ontwikkel en om hulle in die proses ʼn beter loon te kan betaal.

Toelae het hul plek en ons het ’n sterk sosiale veiligheidsnet nodig, maar R350-toelae is ’n belediging vir Suid-Afrikaners.

RISE Mzansi: RISE Mzansi glo die SRD-toelaag moet ná vanjaar uitfaseer word. Dit is onvoldoende en onvolhoubaar en is boonop ’n swak plaasvervanger vir betekenisvolle werksgeleenthede.

Sou jy bestaande toelae verhoog of verlaag?

DA: Die DA sal verseker dat die kinderondersteuningstoelae tot dieselfde vlak as die amptelike voedselarmoedelyn verhoog word. Dit beteken die kinderondersteuningstoelae, onder ’n DA-regering, sal van R510 tot R760 verhoog word; dit is ’n ekstra R250 per ontvanger elke maand.

Hierdie voorstel is belangrik in ’n konteks waar ANC-korrupsie ’n eksistensiële bedreiging vir die volhoubaarheid van maatskaplike toelae inhou. Slegs ’n regering wat geanker is in die DA se gesonde finansiële bestuursrekord kan die volhoubaarheid van maatskaplike toelae beskerm.

Indien dit in die volgende boekjaar geïmplementeer word, sal die beleidsvoorstel ’n bykomende R39,6 miljard se befondsing per boekjaar vir die bestaande 13,2 miljoen ontvangers vereis. Hierdie voorstel is moontlik as die regering korrupsie uitroei, vermorsing sny en besparings genereer.

Maatskaplike toelae en ander vorme van maatskaplike welsyn is nie ’n voldoende plaasvervanger vir ’n werk nie. Tog bly dit nodig vir die ekonomie omdat hulle die mees kwesbares in die samelewing teen uiterste armoede beskerm.

VF Plus: Ouderdomtoelae en toelae vir gestremdheid, kindersorg en veral pleegsorg moet verhoog word.

Kindersorgtoelae moet egter vervang word deur ʼn soort koopbewysstelsel. Op lang termyn sal ’n bedeling wat volgehoue ​​ekonomiese groei skep, die getal mense wat van maatskaplike toelae afhanklik is, verminder. Die behoefte aan ouderdom- en kindersorgtoelae sal afneem in ’n bedeling waar welvaart deur ekonomiese groei en werkskepping geskep word.

ActionSA: ActionSA sal bestaande maatskaplike toelae verhoog saam met die bekendstelling van die Ubis om die mees kwesbares in die samelewing teen die gevolge van armoede te beskerm.

PA: Ons moet die toelae verhoog, maar vir minder ontvangers. Die wat kan werk, moet werk. Ons glo hulle wil en het ’n plan om hulle daardie geleentheid te gee.

RISE Mzansi: RISE Mzansi ondersteun die bestaan ​​van maatskaplike toelae as ’n uitdrukking van die waarde van solidariteit: om te verseker dat niemand toegelaat word om in absolute armoede te verval nie.

ʼn RISE Mzansi-regering sal die bestaande toelae (SRD-toelae uitgesluit) handhaaf en verseker dat die waarde van die toelae aan inflasie gekoppel is.

Terselfdertyd sal ’n RISE Mzansi-regering aktief werk om verandering te bewerkstellig en te implementeer wat nodig is om die ekonomie te laat groei. Dít sal werk skep en belastinginkomste verhoog om openbare dienste soos gehaltegesondheidsorg, onderwys, openbare vervoer en gemeenskapsgeriewe te finansier wat lewensgehalte sal verbeter.

Ons glo die maatstaf van ʼn suksesvolle regering sal wees dat minder Suid-Afrikaners mettertyd toegang tot maatskaplike toelae benodig.

Wat sou jou party doen om die betaling van maatskaplike toelae meer doeltreffend en geriefliker te maak?

DA: Die DA sal dit makliker maak om aansoek vir gestremdheidspesifieke toelae te doen deur ’n stelsel te skep wat aansoekers reeds aan die begin van die proses sif.

Dit sal help om mense te identifiseer wat nie vir dié toelae kwalifiseer nie en die aantal aansoeke wat volledig geassesseer moet word, verminder.

Daarbenewens sal ons dit vir mense met gestremdhede makliker maak om die mediese assesserings te kry wat nodig is vir toegang tot ongeskiktheidstoelae deur private dokters toe te laat om dié assesserings te doen.

VF Plus: Korrupsie en bedrog rakende toelaagbetalings moet dringend getakel word.

’n Doeltreffende kaart- en e-beursie-stelsel moet geïmplementeer word. Die toeganklikheid van uitbetalings moet ook verbeter word, veral met betrekking tot landelike ontvangers. Vennootskappe met private instellings om verkooppunte te gebruik, is een metode.

ActionSA: Ons sal die regverdige en tydige verspreiding van maatskaplike toelae verbeter deur geprioritiseerde institusionele hervormingsprogramme by die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (SASSA) in te stel. Dit sal korrupsie en burokratiese ondoeltreffendheid uitskakel om toegang tot maatskaplike toelae verbeter.

Ons sal ook tegnologiese oplossings soos mobiele betalings en e-beursies instel sodat ontvangers makliker toegang tot hul geld kan kry.

Ons beoog om die toelaestelsel gereeld te hersien om te verseker dat ons mense steeds toegang het tot die maatskaplike ondersteuningstoelae wat hulle nodig het.

PA: Die maklikste ding om te doen sal wees om die ANC as die party in beheer te vervang. Dit sal terloops die hele Suid-Afrika meer doeltreffend maak.

RISE Mzansi: Die afgelope jare het die media die laat betaling van toelae uitgelig en onder meer gewys hoe bejaarde ontvangers buite in slegte weer moet wag om hul toelae te ontvang. Hierdie toelae bied ’n veiligheidsnet en die betaling daarvan behoort nie swaarkry te vererger of die waardigheid van die ontvangers te skend nie.

Die maatskappye wat die betalings maak, moet diensvlakooreenkomste met die departement van maatskaplike ontwikkeling in plek hê. Dié ooreenkomste moet ook gereeld geoudit word en die vereistes daarvan moet streng toegepas word.

  • Hierdie berig het oorspronklik op GroundUp verskyn en word met vergunning gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.