‘Makwarela moet in sy maai vlieg’, sê Cope

Willie Madisha, adjunkpresident van Cope, Vrydagmiddag buite Tshwane-huis, hoofkantoor van die Tshwane-metro (Foto: Skermskoot)

“Dit was verkeerd en ons veroordeel dit en hy moet in sy maai vlieg.”

Só het Willie Madisha, adjunkpresident van Cope, Vrydagmiddag buite Tshwane-huis, hoofkantoor van die Tshwane-metro, gesê nadat dit Vrydag aan die lig gekom het dat die rehabilitasiesertifikaat wat die nuutaangestelde burgemeester van Tshwane, dr. Murunwa Makwarela, by die stadsbestuur ingedien het, vervals is.

Die hoofregistrateur van die hooggeregshof in Pretoria het ʼn verklaring oor die vervalsing uitgereik om dit te bevestig en Makwarela het summier daarna as burgemeester bedank.

Madisha het dit duidelik gestel dat Cope kwaad is, maar het in dieselfde asem om verskoning gevra.

“Ons vra om verskoning aan die mense van Tshwane en die mense van Suid-Afrika vir die oortreding van dr. Murunwa Makwarela,” het Madisha gesê.

“Ons is baie ongelukkig oor wat gebeur het omdat Cope sterk glo in gedragskode en om die wet na te kom. Wat die man gedoen het, is verskriklik.”

Dr. Murunwa Makwarela, uitgeskopte burgemeester van Tshwane, eis ‘n verskoning van die stadsbestuurder. (Foto: Twitter)

Madisha het erken dat Cope nie geweet het van die bedrogspul nie en sê die party distansieer hom nou heeltemal van Makwarela.

“Dit is nie Cope wat dit gedoen het nie, maar ʼn individu, so daarom kan daar nie vingers na ons gewys word nie. Hy het die party in die skande gesteek.

“Ons is nie kriminele nie en staan nie vir korrupsie nie. Dit is waarom ons destyds van die ANC-regering weggebreek het omdat hulle die verkeerde rigting begin inslaan het.”

Cope beoog om so gou as moontlik ʼn nuwe raadslid in Makwarela se plek te kry.

Op ʼn vraag of Cope stappe teen Makwarela gaan doen, het Madisha gesê dat die party aksie gaan neem, maar hy nie duidelik gemaak of dit regstappe sal wees nie.

“Ons sal beslis stappe doen, want wat hy (Makwarela) gedoen het, was verkeerd en sy aksies moet reggestel word.”

Dennis Bloem, woordvoerder van Cope, het aangedui dat die party uiters teleurgesteld is in die koalisie in Tshwane wat ʼn “blinde oog op Makwarela se bedrogspul gedraai het”.

“Makwarela was vir een jaar en ʼn paar maande die speaker in die raad en die bedrog is nooit aangeraak nie. Hulle moes daarvan geweet het, maar het niks gesê nie,” het Bloem gesê.

Bloem sê ʼn ondersoek sal moontlik nou ná die Makwarela-debakel volg waar elke raadslid se doen en late onder die loep geneem sal word.

“Dit is nie net Makwarela nie, daar is nog raadslede met dieselfde skelmstreke.”

Madisha is van mening dat Makwarela geld van die publiek gesteel het vandat hy raadslid, speaker en burgemeester geword het en sê dié geld behoort eintlik in die “mense van Suid-Afrika se sakke”.

“Hy moet daardie geld terugbring, want wat hy gedoen het, is verkeerd.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.