Die DA gaan Julius Malema, leier van die EFF, en EFF-LP Nazier Paulsen by die parlementêre etiekkomitee verkla oor onlangse plasings op sosiale media rakende die gebeure wat Dinsdag buite die Senekal-landdroshof in die Vrystaat ontvou het.
Malema het Woensdag ʼn video van boere voor en in die landdroshof getwiet met die byskrif: “Magwala a chechele morago! (Lafaards beweeg na agter) Vegters val aan!”
Paulsen het op sy beurt later ʼn foto van ʼn masjiengeweer met die onderskrif “Maak gereed!” geplaas.
Die DA sê dié plasings hits geweld aan.
“Die DA veroordeel hierdie twiets vir wat dit is – ʼn blatante poging deur die EFF-leierskap om in hierdie tyd geweld nog verder aan te hits. Hierdie soort gedrag is betreurenswaardig veral deur parlementslede wat die verantwoordelikheid het om die oppergesag van die reg en die beginsels wat ons Grondwet ten grondslag lê, te handhaaf,” sê Natasha Mazzone, DA-hoofsweep.
Volgens Mazzone doen die opposisieparty ʼn beroep op vredeliewende Suid-Afrikaners om nie na diegene te luister wat op haat en verdeeldheid gedy nie.
“Enigiemand wat geweld aanhits en die vernietiging van eiendom aanmoedig, moet aangekeer en veroordeel word.
“Die DA doen ʼn beroep op die etiekkomitee om Malema en Paulsen se twiets en gedrag te ondersoek. Sulke gedrag is hoogs onverantwoordelik vir ʼn party wat duisende volgelinge op sosiale media het.”
Maroela Media het vroeër berig gemoedere het Dinsdag hoog geloop by die hof in Senekal toe duisende mense na die landdroshof opgeruk het waar Brendin Horner (21) se vermeende moordenaars, Sekwetje Mahlamba en Sekola Matlaletsa, verskyn het.
Horner se liggaam is verlede Donderdag op ʼn plaas in die Paul Roux-omgewing gevind. Hy is wreed vermoor. Mahlamba en Matlaletsa is kort daarna in hegtenis geneem en het Dinsdag vlugtig op aanklag van moord verskyn.
Ná afloop van die hofverrigtinge, waartydens lede van die publiek nie die beskuldigdes kon sien nie, het ʼn groep mense die hof binnegegaan en is ʼn polisievoertuig buite die hof omgekeer waarna dit aan die brand geraak het.
Malema het intussen ʼn beroep op die EFF se sogenaamde grondmagte asook “vredeliewende Suid-Afrikaners” gedoen om volgende week na die hof op te ruk om die “demokrasie en eiendom te beskerm”.
Since the government of @CyrilRamaphosa is extremely scared to respond decisively, we are on our own. Next appearance, all ground forces and peace loving South Africans will be in attendance, in defence of our democracy and property. Magwala a chechele morago! Fighters attack! pic.twitter.com/HIddc4gOV3
— Julius Sello Malema (@Julius_S_Malema) October 7, 2020
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
51 Kommentare
Malema jy sal nie daar wees vir die volgende hof verskeining sal jy?Dit is soos ‘n hond wat blaf niemand is bang vir hom.
Ja EFF dis lekker om kinders en ou mense aan te val, en te vermoor… oppas dat die wiel nie draai nie… julle kaders is mos so erg oor julle ma’s… Kom ontmoet ons volgende keer persoonlik op Senekal..ek trippel dare jou…
Hulle sal seker nie gearissteer word nie.Dan wonder ouens soos dr Burger hoekom frustrasies oorkook.Wens ou Malema is ook daar maar hy sal te bang wees.
Eff gaan seker opdaag by hof met slingervelle en ketties!Hoe pateties kan hul nog wees!!!
“peace loving South Africans” en EFF in een sin Malema?