Malema se grondgrypsaak weer uitgestel

Julius Malema. Foto: EFF

Die grondgrypsaak teen Julius Malema, leier van die EFF, is Maandag in die Newcastle-landdroshof in KwaZulu-Natal tot later vanjaar uitgestel.

Malema se regspan het vanoggend vlugtig in die hof verskyn, waar die saak tot 9 September uitgestel is. Malema het nie self die verrigtinge bygewoon nie.

Maroela Media het vroeër berig Vusi Khoza, voorsitter van die EFF in KwaZulu-Natal, het voorspel dat die saak uitgestel gaan word, omdat Malema se regspan steeds besig is om die grondwetlikheid van die Wet op Oproerige Byeenkomste te betwis.

Malema word daarvan aangekla dat hy dié wet in 2014 in Bloemfontein en in 2016 op Newcastle oortree het. Hy word ook van betreding aangekla.

Op 26 Junie 2016 het die EFF-leier aan sy ondersteuners in Newcastle gesê om enige grond wat hulle wil hê, te beset omdat dit aan swart mense behoort. Wit mense kan nie eienaarskap van Suid-Afrikaanse grond hê nie, het hy gesê. Hy het twee jaar vantevore in Bloemfontein soortgelyke uitsprake gemaak.

Nadat hy aangekla is en in November 2016 in die Newcastle-landdroshof verskyn het, het Malema uit die hofgebou gestap en wéér aan sy ondersteuners gesê om grond te beset. “As ek moet tronk toe gaan omdat ek vir julle sê om die grond te vat, dan is dit so. Ek is nie bang om tronk toe te gaan oor die grondkwessie nie, maar ek is bang vir die tronk as ek soontoe moet gaan oor korrupsie. Ek wil nie tronk toe gaan oor korrupsie nie, maar ek sal tronk toe gaan vir grond,” het hy aan sy ondersteuners gesê.

Maroela Media het verlede week berig die hooggeregshof in Pretoria het Malema se aansoek om die wet as ongrondwetlik te verklaar, van die hand gewys. Die leier van die rooi barette weier egter om die saak daar te laat en gaan nou die konstitusionele hof nader in ʼn poging om die wet as ongrondwetlik te laat verklaar.

Malema se pogings om dít te doen het al tot verskeie uitstelle van die Bloemfontein- en die Newcastle-saak gelei.

Hy moet in November weer in die hof op Bloemfontein verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Winnie ·

Hy gaan nie ophou totdat hy sy sin kry nie en hy kry dit altyd

Dries du Toit ·

Hoekom maar net nie die hofsaak uitstel tot hy so oud is soos Zuma nie.

Elna ·

Dries ek stem met jou saam want hulle is baie lief daarvoor om ” delaying” taktiek te gebruik tot die saak verjaar en dan word dit net dood eenvoudig uit die hof uit gegooi.

zoom zoom ·

Al die Howe is bang vir JM. Hoekom elke hofsaak teen die man uitstel en uitstel. Is daar ‘n Engel op JM se skouer wat hom beskerm soos met Zuma. ??????????

Hanna Hoekom ·

Wel, die goeie nuus is dat die hanswors nie bang is om tronk toe te gaan nie. Dalk het dit bietjie tyd geword…

Onskuldig ·

Die “regstelsel” is so deurmekaar dat niemand meer weet wat reg en wat verkeerd is nie. Indien iemand geweet het, sou sake nie jare gesloer het nie! n Saak kan vir altyd aanhou, kyk maar hoe manipuleer mense met geld sake sodat dit nooit afgehandel word nie.

Vraagteken ·

Die man moet aanhou – binnekort het hy niks meer geld oor nie.

Johan ·

As hulle nie van n wet hou nie verander hulle hom net. Vra die verkeersdepartement. Hy sal hom betwis tot hy sy sin kry. Hy weet hy kom weg met als, so hy steur hom aan niks en niemand nie.

Carl Jordaan ·

Dit maak n bespotting van die reg. Gaan hy ooit verhoor word? Dit lyk so of politici, kan doen en sê wat hulle wil. en daarmee kan wegkom. Justice delayed, is Justice denied.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.