Malesela Teffo in die hof

Adv. Malesela Teffo. (Foto: Twitter / Malesela Teffo)

Die voormalige advokaat Malesela Teffo (53) het Donderdag in die Pretoriase landdroshof verskyn op aanklagte van aanranding, diefstal en opsetlike saakbeskadiging.

Die klagtes spruit uit ’n voorval wat op 29 Julie by die Protea Towers in Pretoria plaasgevind het. Teffo huur kantoorruimte in dié gebou, wat deur City Property besit word. Hy is egter verbied om vanaf 21 April die perseel te betree.

Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê daar word beweer dat Teffo op 29 Julie sonder toestemming na die genoemde gebou gegaan het, saam met ’n persoon van ’n slotmakeronderneming.

“’n Veiligheidsbeampte by die ontvangs het Teffo probeer keer om in te gaan. Hy het egter die beampte ondermyn en na sy kantoor gegaan. Hy het saam met die persoon van die slotmakeronderneming by die kantoor ingebreek,” sê Mahanjana.

“’n Ander veiligheidsbeampte wat op die toneel was en die voorval opgeneem het, is na bewering deur Teffo aangerand. Die beampte het na die polisiestasie gehardloop om die voorval aan te meld. Toe hy na die toneel terugkeer, was Teffo reeds weg en het hy die deurhandvatsel saam met hom geneem.”

Teffo word ook in ’n afsonderlike saak van bedrog aangekla.

Volgens Mahanjana het Teffo glo R13 000 uit twee klaers bedrieg deur voor te gee dat hy regshulp vir hul gaan bied.

“Die twee klaers het op 9 Junie vir Teffo om regshulp in ’n saak genader. Teffo het glo ingestem om hulle te help en gevra dat elkeen R6 500 in sy persoonlike rekening moet betaal. Hy het daarna gesê dat hy ’n konsultasie met hulle sal reël. Die klaers het die geld in sy rekening inbetaal.

“Toe die klaers vir Teffo oor die konsultasie uitvra, het hy hulle na bewering geïgnoreer.”

Die klaers het die saak ná ’n ruk by die regspraktykraad aangemeld en hulle is ingelig dat Teffo nie meer praktiseer nie. Dit is toe dat die twee die saak by die polisie aangemeld het.

Teffo is Dinsdag in hegtenis geneem en is sedertdien in aanhouding.

“Dit is na Teffo se inhegtenisneming op rekord gestel dat hy geweier het om saam met die polisie te werk. Hy het geweier dat hulle sy vingerafdrukke neem en om sy persoonlike adres te gee.”

Die landdros het beslis dat Teffo met die staat moet saamwerk deur die gevraagde inligting te verskaf.

Die saak is tot Maandag uitgestel sodat Teffo se adres, profiel en moontlike borgtogaansoek gefinaliseer kan word.

Teffo, eens die regsverteenwoordiger van vier van die vyf beskuldigdes in die opspraakwekkende moord op die voormalige Bafana Bafana-kaptein Senzo Meyiwa, is verlede jaar van die rol geskrap.

Dit nadat daar 22 bewerings van wangedrag teen Teffo by die regspraktykraad geopper is. Dié bewerings sluit onder meer in minagtende gedrag in die hof, die misleiding van die hof en die wanbesteding van geld.

Teffo is in Mei verlede jaar, nog geklee in sy toga, in die Pretoriase hooggeregshof in boeie geslaan nadat daar ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik is.

Lees meer oor die saak hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Harley Davidson ·

Hoekom word die man so vervolg in Suid-Afrika wat het hy gedoen?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.