Man gee homself oor ná moord op paramedikus

Moloto Winniefred Mabotja. (Foto: Twitter / @PhophiRamathuba)

’n 47-jarige man wat sy vrou glo verlede Sondag by hul huis buite Marble Hall in Limpopo vermoor het, is vandeesweek in hegtenis geneem nadat hy homself aan die polisie oorgegee het.

Volgens die polisie is sy vrou, Moloto Winniefred Mabotja, ’n 41-jarige paramedikus, met ʼn panga doodgekap. Die egpaar het in die Shushumela- informele nedersetting gewoon.

Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê die man het homself ʼn dag ná Mabotja se dood by die Lydenburg-polisiestasie in Mpumalanga oorgegee.

“Die verdagte het die polisie ingelig dat hy sy vrou die vorige aand doodgemaak en haar in die huis toegesluit het,” het Ledwaba gesê.

“Die Elandskraal-polisie is onmiddellik gekontak en die verdagte het die polisie na die huis geneem waar die oorledene se liggaam met verskeie beserings aangetref is. Die bebloede panga het langs haar liggaam gelê.”

Die motief vir die moord is in dié stadium onduidelik. Ledwaba sê huishoudelike geweld kan nie uitgeskakel word nie.

Lt.genl. Thembi Hadebe, provinsiale polisiekommissaris, het haar kommer oor voortslepende voorvalle van geslagsgebaseerde geweld uitgespreek, en die publiek gewaarsku om hulle van sulke “barbaarse optrede” te weerhou.

“Dié soort voorvalle is ʼn aanduiding dat daar iets ernstig fout is in ons samelewing. Ons moet saamwerk om te verhoed dat sulke afgryslike goed gebeur.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.