Man geskiet ná onderonsie oor pizza

(Foto: Facebook/White River)

ʼn Hawelose man is doodgeskiet nadat hy iemand glo vir ʼn pizza gevra het.

“Volgens inligting het die polisie in Witrivier in Mpumalanga op 25 Maart omstreeks 19:00 ʼn skoot gehoor naby die polisiestasie,” sê brig. Selvy Mohlala, woordvoerder van die polisie. “Hulle het gaan ondersoek instel en op ʼn groep mense in die pad afgekom. ʼn Man het dood in die straat gelê.”

Die man is in die bors en hand geskiet deur ʼn 39-jarige man wat ook op die toneel was.

“Die slagoffer het na bewering die man vir pizza gevra en hy het geweier om dit vir hom te gee. Die slagoffer het daarna die man met ʼn ketting aangeval. Die verdagte het sy vuurwapen uitgepluk en hom geskiet. Die slagoffer is vermoedelik in sy laat 40’s.”

Paramedici is na die toneel ontbied en die man is op die toneel dood verklaar.

Maroela Media het vroeër berig die voorval het buite Ocean Basket plaasgevind. Volgens ooggetuies was die slagoffer in ʼn vurige argument met ʼn man buite die restaurant betrokke.

Andre Spyridis, eienaar van die Ocean Basket in Witrivier, het bevestig geen kliënte of personeel van die restaurant was betrokke by die voorval nie. “Ocean Basket het absoluut niks met die voorval te doen nie, dit was net toevallig dat die tragedie buite die restaurant plaasgevind het.”

Mohlala voeg by die verdagte is in hegtenis geneem op aanklag van moord. “Die vuurwapen en sy vuurwapenlisensie is gekonfiskeer vir verdere ondersoek. Hy sal na verwagting Maandag in die Witrivier-landdroshof verskyn.”

Enigiemand met meer inligting word versoek om Crime Stop te kontak by 08600 10111.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.