Man gesoek ná moord op gastehuisbestuurder

Gertjie Bothma (Foto: Verskaf)

Die polisie is op die spoor van ’n man in sy laat 30’s, wat verdink word van die moord op ’n gastehuisbestuurder aan die Wes-Rand in Gauteng.

’n Foto van Gertjie Bothma word wyd deur die polisie versprei en die gemeenskap word gevra om op die uitkyk te wees vir hom. Hy is bekend in die Carletonville-omgewing.

Domingos Antonio Novela, bestuurder van die Sleepover-gastehuis en konferensiefasiliteit in Oberholzer, is Woensdagoggend omstreeks 05:40 by die gastehuis vermoor.

Volgens inligting wat sers. Wynand Kruger van die polisie se speurtak in Carletonville verskaf het, het Novela die oggend die hek oopgemaak vir ’n gas met ’n vragmotor wat die vorige nag in die gastehuis oorgeslaap het. Op pad terug na sy kamer op die perseel, het hy [Novela] twee mans op heterdaad betrap, besig om dekor en ander eiendom van die gastehuis te steel.

Die verdagtes was besig om die eiendom van die gastehuis se perseel oor die muur te tel na die naburige erf – waar een van die verdagtes glo woon.

“Toe hulle [verdagtes] besef hulle is op heterdaad betrap, het hulle Novela aangeval en doodgeslaan,” sê Kruger.

“Een verdagte is kort ná die voorval vasgetrek en sal na verwagting Vrydag in die hof verskyn. Bothma is egter steeds op vrye voet.”

Die polisie het Vrydagoggend inligting ontvang oor ’n adres waar Bothma homself moontlik kan bevind, maar volgens Kruger het Bothma die polisie ontglip.

Die soektog duur voort.

Enigiemand met meer inligting wat tot Bothma se inhegtenisneming kan lei, kan Kruger by 065 968 9630 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.