Man gevonnis ná hy baba met droë ys brand

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash/Luma Pimentel)

’n Man wat sy eksmeisie se ses weke oue baba met droë ys gebrand het, is Dinsdag in die Noord-Gautengse hooggeregshof tot 10 jaar tronkstraf gevonnis. Twee jaar van dié vonnis is vir vyf jaar opgeskort. Die voorval het in 2020 plaasgevind.

Volgens Natasha Venter, adviseur by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, is Gerhard Viljoen (25) skuldig bevind op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Die eenheid het ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag in die saak opgetree. Die kind se biologiese ma is nog nie van enigiets aangekla nie aangesien sy tans steeds minderjarig is.

“Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het aanvanklik, ten spyte van oorweldigende bewyse, die klagtes teen die beskuldigde in die Brits-landdroshof teruggetrek.

“Nadat die privaatvervolgingseenheid vertoë aan die direkteur van openbare vervolging (DOV) in Gauteng gerig en aangedui het dat hulle Viljoen privaat wil vervolg, het die DOV egter besluit om wel vervolging in te stel en die saak na die hooggeregshof oor te plaas.”

Venter sê Viljoen het skuldig gepleit en ʼn pleitooreenkoms met die staat gesluit.

Volgens ʼn J-88-vorm het die baba 12 beserings opgedoen. ’n J-88-vorm is ʼn regsdokument wat deur ʼn mediese dokter of geregistreerde verpleegster ingevul word om die beserings wat deur ʼn slagoffer opgedoen is, te dokumenteer.

“Viljoen het erken hy het die baba gebrand deur hom teen die droë ys in sy vrieskas te druk. Hy het ook verskeie beserings aan die baba toegedien deur hom herhaaldelik met die oop hand en ’n roerspaan oor sy hele lyf te slaan.

“Hy het ook erken dat hy die baba op ’n ander geleentheid met ’n vuis geslaan het. Hy wou glo die baba se ma slaan terwyl sy oor haar baba gekniel het. Hy [Viljoen] het erken hy moes voorsien het dat hy die baba sou kon raakslaan.”

Volgens Venter is die NVG tans steeds besig om klagtes teen die biologiese ma te oorweeg. Sy het glo aan ’n kleuterskoolonderwyseres erken dat sy haar baba in ’n vrieskas gesit het wanneer die kind te veel gehuil het.

“Die privaatvervolgingseenheid verwelkom die vonnis teen Viljoen, aangesien sake van geweld teen vrouens en kinders geprioritiseer behoort te word.

“Ons wil ook die aanklaer gelukwens met Viljoen se suksesvolle vervolging. Ons bly egter bekommerd oor die toestand van vervolgings in die Brits-landdroshof waar hierdie saak aanvanklik van die rol geskrap is.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Suzette ·

Die ligte vonnis gaan nie hierdie gemors rehabiliteer of ‘n les leer nie. Duidelik is daar ‘n skroef los.

Swerwer ·

Verskriklik, die arme klein babetjie verdien nie sulke gedrag nie. Natuurlik moet die ma ook aangekla word, die trauma wat so ‘n kleintjie moet verwerk is verskriklik. Alles as gevolg van kinders wat kinders maak. Hoe op aarde kan hul so ‘n geval van die rol skrap. Iewers is iets nie pluis nie.

Magda G ·

Beide moet tronkstraf kry. Die ma is aandadig. Maar dit gebeur met orige kinders wat kinders verwek. Geen verantwoordelikheid. Waar is die ouerpaar se ouers in die geval. Sluit hulle toe.

Cherokee ·

Swerwer, jou woorde ‘verdien nie’ verdien nie nie plek in jou kommentaar nie. Jy kan nie van ‘n kind van 6 weke en verdien in dieselfde asem praat nie, tensy jy sê suigelinge verdien slegs liefde en sorg.

Nie Verbaas ·

Fantasties, hy verdien dit en meer maar as hy swart was was sy vonnis seker in geheel opgeskort.

Chris dupreez ·

Die vonnis is heeltemal te lig vir wat die man aangevang het.

Annelize ·

Die afgryse skreeu ten Hemele!!!

Dis “mense” soos die, wat gedwonge sterilisasie moet ondergaan en klaar. Die “Ma” is dan self nog minderjarig, die “pa” 25, wat soek ‘n minderjarige by ‘n 25jarige? Die skroewe is nie net los nie, dit het heeltemal verloor!

Duisende vrouens daar buite sal enigiets onder die son gee om ‘n kindjie van hul eie te kan he, en kyk wat doen die met hulle baba!!!

Miets ·

Annelize, ek stem so baie met jou saam. Dit voel of my hart in duisend stukkies gebreek het met die lees van die artikel, want my dogter is ook een van die ongelukkiges wat smag na ‘n kindjie maar vir wie dit nie beskore is nie………. Nog nie!! Hoop hierdie klein mensie word oorlaai met liefde.

Ann-Lize ·

Ek stem met die sterilisasie. Dit is ‘n voorreg om ‘n kind te kan hê, en hulle het altwee duidelik bewys hulle kan nie ouers wees nie. En selfs met regte kom verantwoordelikhede, as jy nie daai verantwoordelikheid kan nakom nie, mag jy nie daai reg hê nie!

Annelize ·

Dis omrede daar nie veel tussen die ore is nie Misky, en hopeloos te veel op ‘n ander plek.

Witwax ·

Ek weet nie meer wat met die mensdom aan gaan nie ,
Om sulke berigte te lees is om van siek te word.
Godsdiens op skool is weg, mense gaan nie mee kerk toe nie, gooie opvoeding lyk my is daar nie meer nie.

Misky ·

En my kommentaar word sommer verwyder. Ek staan by wat ek gesê het vroeër en geen straf sal die daad regverdig nie. Daai slegte ma (nie die naam ma werd nie) moet ook gevonnis word en goed bewus gedoen is.

Magda G ·

Origheid, dis vandag se jongmense en daarby astrant ook nog

Porseleintjie ·

Mense soos die moes net nooit ouers geword het nie. God se wat jy aan ‘n kind doen, doen jy aan Hom. Sidder byvoorbaat vir Sy woede.

Mellissa ·

Minderjarige se g*t… Hoe kan jy n kind in die vrieskas sit want hy huil teveel…waar is haar ouers??? As sy nou nog minderjarige is hoe oud was sy toe sy n baby gekry het??? Hoe doen mens so iets???

Irma ·

….ekskuus? Lees ek reg? Dit was 2jr terug..en die ma is steeds minderjarig…

Anel ·

Dit was 2 jaar terug en die ma is nog steeds minderjarig! Die ou moet sommer van verkragting ook aangekla word!!!

Charmain ·

As die ma in 2020minderjarig was en sy is steeds minderjarig, hoe oud was sy dan toe sy met n 25 jarige man betrokke geraak het? Statutere verkragting?

Ruanda ·

Dit is wat gebeur as kinders wil kinders hê!!! maak my siek …. daar is mense wat nie kan kinders kry nie wat so mooi na hulle sal kyk en dan kry jy die??? maak nie vir my sin nie

Janine ·

Ongelooflik hoe wreed die ‘mens’ kan wees. Onskuldige babatjie wat al soveel seer gehad het. Dit breek mens se hart! Slegte lot gemors! Sterileer sommer die “ma” ook. Hoe siek moet jou wees om ‘n pap baba in die vrieskas te sit omdat hy huil? Kla haar aan en sluit haar toe!

Sonja ·

Skuim van die aarde ek hoop hulle martel hom genadeloos in die tronk.

Carina ·

Waar is hierdie minderjarige “ma” se ouers? Of gee hulle nie om wat van hul kleinkind word nie? Of is die dogter sommer pad af gestuur omdat sy met ‘n ouer man deurmekaar was? Ek stem saam met Annelize, gedwonge sterilisasie is al antwoord. Elke liewe persoon wat ‘n baba verlaat, weggooi, beseer, of vermoor, moet net eenvoudig gesteriliseer word. GEEN verdere kinders ooit vir so ‘n persoon nie. Want doen jy dit een keer aan ‘n baba/kind, sal jy dit weer doen. Waar gaan dit eindig??!!

Kensy ·

Die minderjarige se ouers het niks met hierdie saak te doen nie.
Die skuldiges moet self verantwoording doen.
Dit steek my dwars in die krop dat mense nou vra… waar was haar ouers?? As jy oor 14 is is jy toerekeningsvatbaar… hulle het goed geweet wat hulle doen is verkeerd…. stereliseer alby en stuur hulle tronk toe!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.